Kos jou versekering net te veel?

"Die Waaghals" afgeneem deur Anton Geyser /Rugby15

Het jy nog ‘n geldjie oor vir klere na jy jou versekeringspremies betaal het? Ek kon die versoeking nie weerstaan on hierdie foto, geneem deur Anton Geyser by die Varsitybeker rugby, te gebruik nie!

Ons mag dalk vra wat is die verband tussen ‘n kaal jong man en versekering? Wel hierdie is nie ‘n geval van iemand wat rot en kaal besteel is en op pad is na sy versekeraar nie. Dit dui veel eerder op een van die redes waarom dit vir jong mans so moeilik is om versekering te bekom!

Dit herinner aan die advertensie van First for Women waar die drie mans in die motor sit en met mekaar ‘n weddenskap aangaan dat die bestuurder nie sal slaag om in tru-rat tot in Kaapstad te ry nie. Net voor hul die bestemming bereik ry hul dan van ‘n onvoltooide brug af en die advertensie lui “Dit is waarom ons vroue verseker!”

Jong mans is van nature meer roekeloos en almal van ons wat in die koshuis was kan ons vereenselwig met vele kanse en baie beskermengele op ons pad!

Dit is ook nie net ‘n Suid-Afrikaanse tendens nie! In Engeland is daar juis verlede week ‘n debat gevoer oor voortdurende stygings in versekeringspremies en watter stappe geneem kan word om premies bekostigbaar te hou! Dit is ook bespreek op die blog vir motorversekering. Die Britse Eerste Minister David Cameron het hom uitgespreek ten gunste van ontwikkeling in versekerings telematie en die installering van die sogenaamde “black boxes” in voertuie ten einde die gedrag van bestuurders te analiseer en versigtige bestuurders te beloon met meer bekostigbare premies.

In Brittanje waar alle motoreienaars verplig is om hul voertuie te verseker is daar al meer bewyse dat motorversekering vir die jonger geslag bykans onbekostigbaar duur word!

Daar kan aanvaar word, in die lig van beslissings oor geslagsgelykheid, dat daar al meer maatreëls ingestel sal word om voertuigversekeringspremies te bepaal volgens wetenskaplik bewysbare gegewens. Hierdie versekering waarna dikwels verwys word as “Insurance telematics” sal ‘n meer regverdige berekening van versekeringspremies meebring.

Die verantwoordelike jong bestuurder sal dus nie sommer maar oor dieselfde kam geskeer word as die risikos van die jong man wat so maklik uit sy klere spring nie!

Indien jy te veel betaal vir jou versekering – doen navraag en vergelyk versekeraars en versekeringsprodukte. Indien jy versigtig is en jouself uit die moeilikheid hou behoort jy in staat te wees om minder vir versekering te betaal as die waaghalse in jou ouderdomsgroep!

Posted on by jonckie

Comments Off on Kos jou versekering net te veel?