Wees bedag op die gevare wanneer jy kinders in jou voertuig toesluit!

Serusha Govender ervaar die warmte binne 'n voertuig

Nadat paramedici van ER24 ambulansdiens ʼn waarskuwing aan die publiek uitgereik het oor ernstige mediese risiko’s wanneer kinders en diere in ʼn voertuig wat in die son staan, gelaat word, het eNews kanaal se joernalis Serusha Govender besluit om die stelling te toets.

Op 10 Januarie 2012 het sy saam met ER 24 paramedici ʼn toets in die Johannesburg omgewing gedoen. ‘n Voertuig is net na 10:00 die oggend in die son geparkeer. Die temperatuur buite was op daardie stadium 29˚C en binne ʼn koel 19.4˚C. Die toetsvoertuig is vir 30 minute in die son gelos. Die buite temperatuur het toe na 29.2˚C gestyg, terwyl die temperatuur binne die voertuig na 43.2˚C gestyg het.

Teen 12:00 was die buite temperatuur 31.3˚C en die temperatuur in die voertuig 57.3˚C. Serusha het op daardie stadium in die voertuig geklim. Na slegs 15 minute het paramedici haar aangeraai om uit te klim aangesien haar hande begin bewe het en sy uitermate gesweet het. Die binne temperatuur het steeds gestyg. Teen 13:20 was die binne temperatuur reeds 63˚C.

Hierdie toets is ʼn bewys van hoe gevaarlik dit is om ʼn kind of dier in ʼn voertuig te los. Trouens, dit kan lewensgevaarlik wees.

Die volgende wenke word deur paramedici verskaf:

• Onder geen omstandighede moet ʼn kind (of dier) sonder die nodige toesig alleen in ʼn voertuig gelaat word nie. (Nie eers vir ʼn paar minute nie.)
• Maak altyd seker dat jou kinders die voertuig saam met jou verlaat om sodoende seker te maak jy sluit hulle nie per ongeluk toe in die voertuig nie.
• Indien jy ʼn kind of dier alleen in ʼn voertuig waarneem, skakel onmiddellik die CrisisOnCall noodnommer en vra vir hulp. Neem ook onmiddellike aksie.
• Kinders wat uit ʼn voertuig verwyder word waar hulle aan hitte blootgestel was, moet onmiddellik ‘n mediese ondersoek ondergaan. (Paramedici sal daarvoor uitgestuur word.)

Niemand sal tog hul roomys los om te smelt nie, waarom jou kind?

(Artikel: Werner Vermaak ER24 het verskyn in die Nuusbrief van CrisisOnCall)

Serusha Govender lewer kommentaar tydens die toets

Posted on by jonckie

Comments Off on Wees bedag op die gevare wanneer jy kinders in jou voertuig toesluit!