Hoe belangrik is die bestuurder se ervaring vir motorversekering?

Versekeraars gebruik ‘n verskeidenheid faktore om versekeringspremies te bepaal. Dit sluit in inligting oor die voertuig en ook die belangrike inligting oor die bestuurder van daardie voertuig. Die versekeraar wil graag weet of die bestuurder gelisensieer is om daardie klas voertuig te bestuur en wat sy eise rekord is, met ander woorde, was hy of sy al voorheen in ongelukke betrokke?

Dit is veral belangrik om te let op die bestuurservaring – en om dit te onderskei van bloot net ouderdom. Ons het reeds vantevore daarop gelet dat jong bestuurders die grootste risiko inhou vir motorversekeraars. Ons het ook aangetoon dat ouer bestuurders ook ‘n hoë risiko groep is, maar dat hul dikwels hul ervaring gebruik om ongelukkke en gevaarsituasies te vermy.

Waarom is bestuurservaring so belangrik?

Ek dink elke bestuurder op die pad, indien hy terugdink na sy bestuurstoets, sal erken dat daar nie naastenby vir alle moontlike bestuursvaardighede eenmalig getoets kan word nie. Baie bestuurders het in die verlede selfs na kleiner dorpe gegaan vir die bestuustoets aangesien dit by party plekke skynbaar “makliker” was om ‘n lisensie te kry..!

Uit persoonlike ervaring kan ek getuig dat nadat al die vaardighede in die parkeerarea bemeester is en geen bakens omgestamp is nie, het ons op die pad gegaan en seker gemaak dat tegnieke soos die 3-punt draai vervolmaak is. Daar is ook ‘n spesifieke bult in Oudtshoorn waar elke voornemende bestuurder sy “handrem –wegtrek” geoefen het!!

Dit was dus heel moontlik om jou lisensie te verwerf sonder om:

–          Op ‘n oop pad teen 120km/h te ry

–          ‘n Kronkelende bergpas te ry

–          Voertuie verby te steek

–          Met ‘n verseidenheid voertuie te bestuur

–          In ‘n dringende gevaarsituasie skielik besluite te moet neem

–          In nat weer en sterk wind te bestuur, ens.

Al is die bestuurder nog nooit met bogenoemde situasies konfronteer nie, stel sy bestuurslisensie hom egter in staat om wel in sulke situasies te bestuur!

Vir die versekeraar is dit ‘n aansienlik laer risiko waar die versekerde voertuig bestuur sal word deur ‘n bestuurder met ‘n hele paar jaar se ervaring agter die stuurwiel.

Suid-Afrika en unieke omstandighede rakende bestuurservaring

Dit is ook belangrik dat versekeraars juis in Suid-Afrika meer klem plaas op die bestuurder se ervaring as bloot op sy ouderdom. Vanweë die politieke omgewing en diskriminasie in die verlede het daar die afgelope paar jaar redelik vinnig welwaart en voertuigbesit geskuif na voorheen benadeelde dele van die gemeenskap.

Vir baie was dit die eerste keer om ‘n voertuig te besit en te kan bestuur en ons vind baie motorbestuurders wat die eerste keer in hul veertigs en vyftigs ‘n lisensie verkry.

Hiermee moet ook verder die korrupsie by lisensiering in ag geneem word waar baie lisensies onregmatig toegeken is.  ‘n Versekeraar het teenoor my bevestig dat hul versigtig is om enige bestuurder te verseker wat die klein vragmotor lisensie verky het. Dit is veral hier waar korrupsie algemeen voorkom en waar daardie selfde bestuurder wat sy lisensie onregmatig verkry het ‘n maand later ‘n ongeluk maak in Sandton met ‘n luukse Duitse motor!

Versekeraars is dus bedag om veral klem te lê op bestuurervaring en die data oor ongelukseise. Bestuurders met min ervaring agter die stuurwiel kan verwag om duurder te betaal vir hul motorversekering!!

Vir Inligting oor die K53 Bestuurstoets besoek ook die volgende skakel:

K53 Preparation

Posted on by jonckie

Comments Off on Hoe belangrik is die bestuurder se ervaring vir motorversekering?