Slim selfone en onverskillige bestuurders ‘n dodelike kombinasie!

Hoe gevaarlik is die gebruik van selfone op ons paaie?

Hierdie titel kon miskien anders bewoord gewees het. Uit ‘n padveiligheidsoogpunt moet dit dalk wees “Slim selfone in die hande van bestuurders…” Punt! Ek het ook oorweeg slim selfone en dom bestuurders is ‘n dodelike kombinasie. Die feit bly egter staan – die gebruik van selfone op die pad is in die moderne tyd een van die belangrike bydraende faktore tot botsings [en ongelukke].

Hierdie is ‘n onderwerp wat ons dikwels aantref op televisie en radio  -maar daar is tog ‘n paar aspekte wat aandag verdien. Daar word te min aandag gegee aan die feit dat hierdie van jou ernstigste ongelukke kan wees. Dit is noodlottige ongelukke en veral kop-aan-kop botsings wat lei tot die dood!

Ons het nie hier ‘n geval waar jy in beheer van jou voertuig is en van die pad gaan met ‘n band wat bars  of jy uitswaai en nog ‘n breukdeel van ‘n sekonde het om te besluit waarheen om te stuur nie.

Ongelukke wat plaasvind waar bestuurders se aandag nie op die pad is nie, vind plaas teen spoed, sonder waarskuwing en direk teenoor aankomende verkeer, bome , mure ens. Ons vind al meer van die gruwelikste kop- aan -kop botsings waar ons nie weet wat het gebeur nie, behalwe dat die een voertuig in die aankomende baan was….

Botsing in Polokwane 12 Desember 2011

Afgeleide aandag Botsings

Die mooi Afrikaans vir “Distracted Driving Accidents” is waarskeinlik iets soos “Afgeleide aandag ongelukke”. Beter omskryf sal dit wees daardie ongelukke wat plaasvind wanneer die konsentrasie van die bestuurder nie op die pad is nie, maar wel afgelei is deur ‘n wye verskeidenheid faktore.

Dit is belangrik om daarop te let dat daar interne en eksterne faktore kan wees wat die bestuurder se aandag kan aflei van die pad af. In hierdie gedeelte wil ons fokus op een spesifieke faktor naamlik die gebruik van selfone, en wel op die verskeie gebruike daarvan!

Die risiko van “slim selfone”

Die algemene term huidig vir selfone is die sogenaamde meer gevorderde “smart phones” of slim selfone. Hierdie selfone bied veel meer as net die maak van ‘n oproep en selfs meer as die stuur van die kort teksboodskap of sms.

Met die iPhones, Blackberry’s en ander slim selfone kan jy nou 24uur per dag toegang geniet tot die internet en jy kan kommunikeer via tegnologie soos BBM, WhatsApp, Mixit, Skype ens.

Hierdie verhoogde kommunikasie bied baie voordele en die frase “stay connected” is ‘n werklikheid vir jonk en oud. Op die pad en in die hande van die padgebruiker is dit egter dodelik en bied dit die geleentheid op jou Skepper vinniger te ontmoet. Ongelukkig is jy egter ook in staat om ander padgebruikers vinniger die hiernamaals in te stuur!

Neem 'n ruskans op die pad en gebruik dan jou selfoon

Gevaar via alle Padgebruikers

Dit is noodsaaklik dat ons hierdie gevaar beklemtoon vir alle padgebruikers en nie net die bestuurders nie. Enige padgebruiker van wie daar aandag en konsentrasie verlang word moet waak daarteen dat sy aandag nie sodanig deur tegnologie afgelei word dat hy ‘n gevaar skep vir ander padgebruikers nie.

Die afgelope jaar het ons gevind dat noodlottoge ongelukke voorgekom het nie net waar bestuurders besig was met hul selfone nie, maar ook voetgangers en fietsryers was doenig met hul selfone , iPods ens tydens botsings.

Statistieke en Versekering

Dit is altyd moeilik om statistiek te bekom oor die hoeveelheid bestuurders wat selfone gebruik en die hoeveelheid ongelukke wat daardeur veroorsaak word. Die gebruiker is of dood, en kan nie self daaroor getuig nie, of hy is beseer en bewus dat sy erkenning van selfoongebruik sal meebring dat sy versekeringseis afgekeur sal word!

Daar is egter interessante gegewens internasionaal beskikbaar uit navorsingsverslae, meningsopnames ens:

  • Viginia Tech Transport Instituut het bevind die risiko van ‘n ongeluk word tot 23 keer verhoog met die stuur van teksboodskappe deur die bestuurder van ‘n swaar voertuig.
  • Die gemiddelde tyd wat die aandag van die pad af is met die stuur van teksboodskappe is 4.6 sekondes – wat verder is as wat jy die afstand van ‘n rugbyveld bestuur.
  • Teksboodskappe is aansienlik meer gevaarlik as om te gesels of te luister oor die selfoon.
  • In die VSA is 3,092 mense in 2010 dood in ongelukke waar “distracted driving” die oorsaak was – Dit is 1 uit elke 11 ongelukke in die VSA.
  • Meningsopnames toon dat ¾ van alle persone met wie gesels is erken dat hul die selfoon antwoord terwyl hul bestuur , ealmal erken dat hul ongemaklik voel as passasiers wanneer die bestuurder doenig is met sy selfoon!
  • Bestuurders erken dat hul nie die verkeerssituasie in ag neem wanneer hul besluit om die selfoon te antwoord nie.

Gevolgtrekking

Dit is duidelik uit bogenoemde gegewens dat selfone in die hande van bestuurders –en JA, enige bestuurder, ‘n dodelike resep daarstel!

Mag ons nie net aan onsself dink wanneer ons die selfoon gebruik nie –maar ook aan ander families op die pad en hul reg om veilig by hul bestemming aan te kom!!

Besoek ook die volgende skakels in Engels:

Avoiding distractions while driving

Texting and Distracted Driving

Cellular Phones and Road Safety

 

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Slim selfone en onverskillige bestuurders ‘n dodelike kombinasie!