Moenie vertel jy het jou kinders lief as jy hul nie vasgordel in die voertuig!!

Photo during Child Protection Week by Werner Vermaak

Elkeen van ons het bepaalde prioriteite wat vir ons die belangrikste is wanneer ons verwys na padveiligheid. Vir party is dit om nie dronk te bestuur nie, vir ander is dit om stadiger te bestuur en vir my is dit om ‘n veiligheidsgordel te dra. Dit is veral die versuim om kinders vas te gordel of in babastoeltjies vas te maak wat my ontstel!

My ma is oorlede in ‘n motorongeluk in die tyd voor veiligheidsgordels in alle voertuie aangebring is – en ‘n veiligheidsgordel sou haar lewe kon red. Ek voel dus dat ek sonder om doekies om te draai reguit kan praat met ouers oor veiligheidsgordels.

Daar is eenvoudig geen regverdigende verskoning vir ouers om hul kinders nie vas te gordel in ‘n voertuig nie. Padveiligheidsorganisasies doen baie moeite om ouers te waarsku teen die gevare van ongelukke vir kinders as passasiers in voertuie. Elke jaar vind ons ook dat die Rooikruis Kinderhospitaal vir ouers waarsku oor wat gebeur tydens ‘n botsing met kinders wat nie vasgegordel is nie.

Ten spyte van al hierdie waarskuwings sien ons egter dag na dag ouers wat rondbestuur met kinders wat staan op die agtersitplek, tussen die voorsitplek of selfs op die skoot van ander passasiers.

Waarom gordel ouers nie hul kinders vas nie?

Die mees algemene verskonings is:

– Ek ry net gou ‘n kort afstand na die skool of winkel.
– Ek gaan versigtig en stadig bestuur.
– Die kinders huil as hul vasgegordel is.

Die realiteite van ongelukke

Die harde feite is dat die welstand van jou en jou kinders in die voertuig nie net afhang van jou eie versigtige bestuur nie. Daar is baie noodlottige ongelukke waar onskuldige bestuurders in hul voertuie gedood of beseer word deur onverskillige en dronk bestuurders wat verkeersligte verontagsaam en in ander voertuie vasjaag.

Dit maak nie saak hoe ver en hoe versigtig jy gaan bestuur nie –indien jy nie besef dat daar ander gevare op die pad is nie sal jy dit seker nooit besef nie. Veiligheidsgordels en babastoeltjies is nie daar vir versiering nie – dit is daar om moontlik jou lewe te red in hierdie ongelukke!

Vir ouers wat nie kinders vasgordel in hul voertuie nie omdat die kinders huil of raas wil ek graag vra – as jy nie eens gesag kan afdwing teenoor ‘n kleuter nie – hoe verwag jy om dit eendag te doen wanneer hul tieners is?

Opsomming

Ons kan ‘n paar reguit vrae tot mekaar rig:

Is jy ‘n ouer wat lief is vir jou kind, spog met jou kind en op Facebook gereeld fotos plaas van jou oulike baba of kleuter?
Is jy bewus van die gevolge as ‘n kind nie vasgegordel is nie en wat met sy liggaam gebeur tydens ‘n botsing?
Is jy bereid om die res van jou lewe saam te leef met die vraag “sou my kind nog kon leef as hy/sy vasgegordel was?”
Gordel jy jou kind vas in die voertuig en indien nie, wat is jou verskoning?

Kinders is ‘n gawe van die Skepper en dit is ouers se taak om hul te beveilig – VERAL wanneer hul nog te klein is om self ‘n ingeligte besluit te kan neem oor wat veilig is!

Indien jy meer wil weet oor veiligheidsgordel en beskerming van kinders in jou voertuig, besoek gerus die volgende skakels:

Child Restaints and Road Safety

Are we too lenient on those not keeping child passengers buckled-up?

Posted on by jonckie

Comments Off on Moenie vertel jy het jou kinders lief as jy hul nie vasgordel in die voertuig!!