Maak die kleur van jou voertuig ‘n verskil in jou versekeringspremie?

Sodra ons in Suid-Afrika ‘n onderwerp bespreek oor kleur is dit asof ons dadelik regskuif vir ‘n bakleiery! Daar is geen dispuut dat ons vanweë ons kleurvolle politieke verlede inderdaad kleursensitief is nie! Dit is egter interessant dat kleur ook in Suid-Afrika belangrik is vir voertuigversekeraars – en veel meer so as in Amerika.

Kleur van voertuie en versekering in die VSA

Indien ons op die internet soek na die verband tussen kleur van voertuie en versekeringspremies vind ons ‘n magdom webwerwe en blogs uit Amerika wat na so ‘n verband as ‘n mite of “myth” verwys! Dit blyk dat versekeraars in die VSA nie onderskeid tref tussen die kleur van voertuie in die bepaling van die versekeringspremie nie, alhoewel baie voertuigeienaars meen dat dit wel die geval is.

‘n Meningsopname onder voertuigeienaars het aangetoon dat baie van mening is dat ‘n rooi voertuig duurder is om te verseker. Versekeraars in die VSA ontken dit egter en ek wil graag aanhaal:

“The idea that the colour of a car enters into what you’re going to pay for insurance is a myth that’s been around for a long time,” says Jeff McCollum, a spokesman for State Farm Insurance. “I wouldn’t be surprised if it came from the fact that people with red sports cars have the image of being wild and reckless, but it certainly isn’t based on any type of reality.”

Versekeraars in die VSA plaas die klem op die volgende onderskeidende faktore:

  • Die jaar en ouderdom van die voertuig
  • Die fabrikaat
  • Die model
  • Die voertuig en addisionele funksies en bybehore
  • Die grootte van die masjien
  • Addisionele veiligheidsmeganismes soos lugkussings ens

Sielkunde en die voorkeure van verskillende motoreienaars

Daar is wel ‘n interessante skakel tussen die geaardheid van motorbestuurders en die kleur voertuig wat hul verkies. Hierdie geaardheid het vanselfsprekend ook ‘n impak op die wyse wat hul bestuur…

In Kanada het die AA navorsing gedoen en gekyk na die sielkunde betrokke by die proses wanneer voertuie aangekoop word en gevind dat die keuse met ‘n rooi voertuig dikwels tog dui op ‘n “behoefte aan spoed”.

Sommige siekundiges is van mening dat die kleur rooi reflekterend is van mense wat van nature meer waaghalsig is. Die weerspieël vreesloosheid, aktiewe gedrag en ‘n mense wat meer risikos neem. Dit maak egter nie saak in die VSA of jou voertuig rooi is of ‘n ander kleur is nie – daar sal eerder gelet word op die ander belangrike onderskeidende kenmerke.

Die belangrikheid van kleur in Suid-Afrika

Kleur was nog altyd ‘n belangrike besprekingspunt en onderskeidende kenmerk in Suid-Afrika se reenboognasie. Dit blyk ook ‘n belangrike faktor te wees by voertuigversekering.

Uit gesprekke met verskillende voertuigversekeraars in Suid-Afrika is dit duidelik dat hul tog die kleur van voertuie in berekening bring by die bepaling van risiko en die berekening van die versekeringspremie.

Daar is ‘n duidelike onderskeid tussen voertuie met ‘n donker kleur teenoor voertuie met ‘n ligter kleur.

Die belangrike vrae vir versekeraars om te oorweeg is die volgende?

  • Watter kleur voertuig is meer betrokke in ongelukke en lei tot die meeste eise?
  • Watter kleur voertuig is duurder om te hestel?

 

Statistiese gegewens in Suid-Afrika toon aan dat ‘n donker voertuig meer waarskynlik in’n ongeluk betrokke is vanweë die laer sigbaarheid van die voertuig op die pad. ‘n Wit of silwerkleurige voertuig is meer sigbaar oor ‘n langer afstand.

Dit is ook belangrik om te let op die koste van herstel indien die voertuig beskadig word. Die kleur van die voertuig en die gemak of koste waarmee die regte ooreenstemmende verf aangewend kan word sal ook die versekeringspremie beinvloed. Een van die duur Mercedes-Benz voertuie se verf word na verwys  as “designo magno platinum” met ‘n “highly scratch and dirt-resistant matt finish”. Hierdie voertuig sal eenvoudig duurder wees om te herstel as in die geval van jou alledaagse meer beskibare voertuigverwe.

Ons mag dalk ook nou met reg die vraag vra “Waarom verskil ons van die VSA?”. Ek is van mening dat die skokkende ongelukstatistieke hier dalk die antwoord mag bied. In Suid-Afrika beklemtoon ons veel meer die belangrikheid van “visibility”. Ons versoek ook dat motoriste ry met hul dompligte aangeskakel.

Hierdie klem op sigbaarheid is ook met goeie rede aangesien 35-40% van padsterftes in Suid-Afrika voorkom onder voetgangers! Met meer as 14,000 padsterftes in Suid-Afrika het versekeraars meer as genoeg data om te analiseer watter tendense plaasvind en indien hul opmerk dat donkerkleurige voertuie in meer ongelukke betrokke is is dit nie ‘n skok om te vind dat daar’n premieverskil ook is nie…

Posted on by jonckie

Comments Off on Maak die kleur van jou voertuig ‘n verskil in jou versekeringspremie?