SAPD se beslissende optrede teen veediefstal stuur sterk boodskap

Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) wil die SuidAfrikaanse Polisie Diens (SAPD) in die Vrystaat bedank. Dit volg nadat 6 persone op Saterdag, 2 Oktober 2021, in die Fouriesburg-area gearresteer is. Die oortreders is Maandag, 6 Oktober 2021, voor die hof gebring omrede hul vee verwyderingspermitte in die vervoer van vee nie korrek voltooi was nie.

Die arrestasie het plaasgevind tydens ʼn gesamentlike operasie deur Sigbare Polisiëring, die Veediefstal eenheid te Fouriesburg; die Departement van Binnelandse Sake en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Volgens Isabel Kruger van die Veediefstal Voorkomings Forum van die RPO in die Vrystaat, is dit die eerste optrede van sy soort waar die SAPD direkte arrestasies op Artikel 8 van die Wet op Veediefstal uitgevoer het, wat tot skuldigbevindings in die hof gelei het.

Die oortreders is ʼn boete opgelê wat hul moes betaal, en sal ʼn kriminele rekord ontvang. Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, wil die polisie, NVG en die Departement van Justisie bedank vir die spoedige manier waarop oortreders voor die hof gebring en gevonnis is.

Dit is ʼn bewys dat die Kriminele Regstelsel baie vinnig kan reageer met arrestasies en daaropvolgende vonnisoplegging, wat verder daarop dui dat daadwerklike optredes deur die polisie tot positiewe resultate aanleiding gee.

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, meen dat die optrede deur die Polisie en vonnis in die hof ʼn goeie boodskap sal uitstuur na enige voornemende oortreders wat nie die Veediefstal-wetgewing nakom rakende die besit en vervoer van vee op openbare paaie nie.

Posted on by jonckie

Comments Off on SAPD se beslissende optrede teen veediefstal stuur sterk boodskap

Category: Veiligheid Tags :