Vrystaat Landbou ondersteun polisiering op voetsoolvlak

Vrystaat Landbou (VL) verwelkom die voorsitter van die portefeuljekomitee vir polisie, Mev Tina Joemat-Pettersson, asook die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sithole, se onlangse uitsprake in die media dat die SAPD bevelstruktuur te  groot is en dat daar te min mannekrag op voetsoolvlak om die werk te verrig.

Volgens Francois Wilken, president van VL, is dit nodig dat die SAPD die probleem dringend aanspreek. “Die oorbodige struktuur dra by tot die gebrek aan hulpbronne en befondsing en gebrekkige leierskap op voetsoolvlak lei tot die onvermoë van die polisie om veral in die landelike gebiede misdaad hok te slaan.”

Wilken meen dit is noodsaaklik dat die polisie in veral landelike gebiede sigbaar moet wees t.o.v. voorkoming van misdaad, voldoende ondersoek van misdaad moet doen asook effektiewe inligtingsnetwerke daar stel ten einde alle burgers en gemeenskappe veiliger te hou en teen kriminele aanslae te beskerm.

Tydens ’n opname wat VL in November 2020 onder lede gedoen het en deur 20% van VL-lede voltooi is, het 93.47% aangedui dat die polisie nie sy regsverpligting nakom t.o.v. die bekamping, voorkoming en ondersoek van misdaad in die landelike gebiede nie. Lede het ook aangedui dat effektiewe polisiëring, die keuring en werwing van bevoegde polisiebeamptes en groter sigbaarheid t.o.v. operasies, patrollies en plaasbesoeke ontbreek.

Aldus Tommie Esterhuyse, vise-president van VL, is die realiteit en onvermoë van die polisie tydens die onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng ontbloot. “Grootskaalse geweld en plundering het plaasgevind en honderde mense het gesterf omdat die polisie die situasie nie effektief kon beheer nie.” Die realiteit is jare al deur VL op alle moontlike vlakke van skakeling aan die Polisie uitgewys en konstante versoeke vir meer mannekrag, toerusting, beter opgeleide lede, beter ondersoek van misdaad asook bevel en beheer by polisiestasies, is versoek.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, meen dat SuidAfrikaners en veral boerderygemeenskappe wat dikwels die ruggraat van landelike ekonomieë is, ʼn eerlike en professionele polisiediens verdien. Le Roux voeg by dat die werwing van die regte rekrute en aanstellings in posisies waar bevel en beheer toegepas word, onderliggend is aan die endemiese probleem wat rakende polisiëring ondervind word.

Die regering by monde van President Ramaphosa, die Minister van Polisie, Bheki Cele en Generaal Sithole, word versoek om hul eie agendas op die agtergrond te skuif en die belange en veiligheid van alle landsburgers voor op te stel ten einde die polisie met die regte mannekrag, toerusting, fondse en leierskap te bemagtig

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou ondersteun polisiering op voetsoolvlak

Category: Veiligheid