Kommer dat Vlak 4 Inperking tot leemte in landelike polisiering kan lei

Die aankondiging van vlak 4 Covid regulasies deur die regering, wat insluit padblokkades om Gauteng wat onder andere deur SAPD Veiligheidskoördineerders beman moet word, kan moontlik tot ‘n leemte in polisiëring in landelike gebiede lei.

Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) versoek boere daarom om ingeskakel te wees by veiligheidstrukture in hul onderskeie areas, maar veral in Noord-Vrystaat, ten einde paraatheid en sigbaarheid in die landelike gebiede daar te stel.

Tommie Esterhuyse, vise-president van VL, sê dat talle Veiligheidskoördineerders van hul daaglikse take in landelike gebiede onttrek word om diens by padblokkades te verrig wat vanaf 1 Julie op die grense van Gauteng opgestel word. Esterhuyse meen dié aksie kan moontlik tot ‘n leemte in polisiëring in landelike gebiede lei Esterhuyse versoek boere daarom om groter paraatheid, waaksaamheid en oplettendheid aan die dag te lê. Skakeling van verdagte persone, voertuie en beweging veral gedurende aandklok moet deur landbougemeenskappe, veral waar plaaswag-strukture gevestig is, met erns hanteer word.

Verder beveel VL aan dat landbougemeenskappe betrokke moet wees met hoër sigbaarheid t.o.v. wit/blou lig patrollies, veral witlig patrollies in hul onderskeie areas en enige inligting moet aan
veiligheidsverteenwoordigers van landbouverenigings en landelike veiligheidskoördineerders deurgegee word.

Isabel Kruger, voorsitter van die Veediefstal Voorkomings-forum van die RPO, noem dat daar ’n kommerwekkende toename in veediefstal te bespeur is. Veral die Noord Vrystaat loop erg deur waar groot getalle vee (meer as 30) op een slag gesteel word.

“Die feit dat veilings tans deur die regering op Vlak4 van inperking gestop is, behoort ‘n beduidende afname te hê op die vervoer van vee na veilingshuise, maar dit gaan nie die informele vraag en aanbod van vee stop nie. Dit kan ook bydra tot slagtings VRYSTAATwat op plase plaasvind waar vleis na geïdentifiseerde afsetgebiede vervoer word.” sê Kruger.

Volgens Jakkals le Roux, voorsitter van VL Veiligheidskomitee, is daar tans ook ‘n toename in oorgrens misdaad aktiwiteite teen die RSA/Lesothogrens te bespeur, waar landbougemeenskappe die teiken word van kriminele vanuit Lesotho wat boere se vee (party keer meer as 50 op ‘n slag) en ander implemente/produkte soos lekbakke, sonpanele, ens steel. Verdere misdade soos die knip van drade en boere se velde wat aan die brand gesteek word, vind ook plaas.

“In die afgelope week is koperkabels van Eskom substasies en MTN torings in die Clarens/Fouriesburg area by verskeie geleenthede gesteel en gevandaliseer. Dit skep ‘n groot veiligheidsrisiko vir landbougemeenskappe wat sonder selfoonseine of elektrisiteits-voorsiening moet klaarkom.” sê Le Roux.

Vrystaat Landbou rig namens landbougemeenskappe ’n ernstige versoek aan die SANW en SAPD om hande te vat met die gemeenskappe om hoër sigbaarheid in dieoorgrens areas daar te stel wat ook met wit/blou lig patrollies gepaard kan gaan. Die betrokkenheid en inskakeling van veral jonger boere by veiligheidstrukture is van kardinale belang.

Posted on by jonckie

Comments Off on Kommer dat Vlak 4 Inperking tot leemte in landelike polisiering kan lei

Category: Algemeen