Landbou rolspelers vergader met LUR om onwettige instromings vanuit Lesotho te bespreek

Die Vrystaatse LUR van Polisie, Paaie en Vervoer, mnr Sam Mashinini, vergader op 28 April met verskeie rolspelers uit Lesotho en Suid-Afrika om die onwettige instroming van Lesotho-burgers in die Klaarwater-area op spesifieke roetes en plase vanuit Lesotho te bespreek. Rolspelers waaronder die SANW, SAPD, plaaslike boeregemeenskappe en eweknieë uit Lesotho sal tydens die oorgrens vergadering in Zastron bymekaar kom.

“Die onwettige instromings vind die afgelope dekade byna daagliks plaas en het geensins afgeneem tydens die staat van inperking nie.” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL).

Verskeie skriftelike versoeke is aan wetstoepassers, die kantoor van die LUR, die SANW, die SAPD en verskeie forums gerig om daadwerklik aandag aan die probleem te skenk, maar lewer nie die gewenste resultate nie. “Die onwettige binnekoms van Lesotho-burgers hou beslis verband met toenemende misdaad aktiwiteite in die area wat die veiligheid van boerderygemeenskappe en dorpe aangrensend tot die RSA/Lesothogrens ernstig belemmer.”, voeg Wilken verder by.

Benewens Wilken, sal ʼn afvaardiging van VL se Landelike Veiligheidskomitee asook leierboere in die Zastron-area die vergadering bywoon om hul misnoeë met die stand van sake te kenne te gee en skriftelike versoeke tot dringende intervensie van die regering te rig.

Vrystaat Landbou spreek die hoop uit dat ‘n permanente oplossing gevind sal word ten einde dié en soortgelyke probleme teen die grens aan te spreek.

Posted on by jonckie

Comments Off on Landbou rolspelers vergader met LUR om onwettige instromings vanuit Lesotho te bespreek

Category: Algemeen