Inwoners in Oudtshoorn gewaarsku teen toename in diefstal uit voertuie

Die Oudtshoorn-polisie waarsku inwoners dat diefstal uit motorvoertuie gedurende die laaste vier weke ‘n kommerwekkende styging getoon het in veral voertuigbatterye en klankstelsels.

Los goedere soos selfone, GPS-toestelle en ander waardevolle besittings word ook gesteel.

Alhoewel die sake wyd verspreid voorkom is daar baie gevalle in Bridgton en Bongolethu aangemeld.

Mense word gevra om motor- en vragmotorbatterye te merk deur hulle besonderhede daarop te graveer. Voertuie moet ook sover moontlik in verligte areas geparkeer word. Die polisie maan mense om geen waardevolle items in motors te los nie, veral nie as die items van buite sigbaar is nie.

“Die publiek is ons oë en ore en ons vra dat mense nie motorklanktoerusting en -batterye op straat koop nie, aangesien die kans groot is dat dit gesteel is.

Stel ons in kennis as jy mense sien wat onder verdagte omstandighede rondbeweeg en moontlik betrokke is by misdaad,” vra kapt. Louis Visser.

[Oudtshoorn Courant]

Posted on by jonckie

Comments Off on Inwoners in Oudtshoorn gewaarsku teen toename in diefstal uit voertuie