Toyota behou markleierskap met Junie voertuigverkope
2
July
Marksegment | Junie 2014 | Junie 2015 | %-verandering |
Passasiersvoertuie | 35 367 | 33 035 | -6,6% |
Ligte handelsvoertuie | 14 533 | 14 751 | 1,5% |
Medium handelsvoertuie | 907 | 804 | -11,4% |
Swaar handelsvoertuie | 456 | 459 | 0,6% |
Ekstraswaar handelsvoertuie | 1 408 | 1 122 | -20,3% |
Busse | 114 | 75 | -34,2% |
Uitvoer | 23 492 | 31 422 | 33,8% |
Algehele mark (plaaslik) | 52 784 | 50 251 | -4,8% |
Toyota Suid-Afrika Motors het sy markleierskap in Junie behou danksy die feit dat 9 712 Toyota-voertuie ’n nuwe tuiste gevind het. Dit dui op ’n markaandeel van 19,3% in ’n mark wat met bykans 5% gedaal het. Dié fabrikaat het ook sy markaandeel van 27,5% in die algehele ligtehandelsvoertuigsegment (LHV) behou.
“Ons is baie tevrede met die styging in ons markaandeel-persentasie teenoor die vorige maand, wat Junie die sesde agtereenvolgende maand van markleierskap in 2015 gemaak het,” sê Glenn Crompton, Toyota Suid-Afrika se Vise-President van Bemarking. “Iets wat egter nog meer gerusstellend is, is die feit dat meer as 90% van ons verkope deur ons handelaarsnetwerk gevloei het, wat op ’n stewige verbintenis van ons handelaarsnetwerk en groot lojaliteit van ons klante dui.”
Die algehele mark het die derde agtereenvolgende maand ’n effense daling getoon – dié keer 4,8% teenoor dieselfde maand verlede jaar. Die passasiersmotor-mark het ’n daling van 6,6% beleef.
“Die daling in die passasiersvoertuig-segment en die stygende mark vir gebruikte voertuie beklemtoon verbruikers se versigtige benadering in die lig van die ekonomiese onsekerheid in die land,” sê Crompton, en verwys na onsekerheid oor die brandstofprys, swak wisselkoers en stygende prys van nutsdienste, wat as risiko-faktore vir verbruikers beskou word.
Toyota se topverkopers was weereens sy immer-groen Toyota Hilux (2 912 eenhede), die Fortuner (1 353 eenhede) en die Corolla Quest (1 004 eenhede). “Ons is veral trots op die Fortuner se vertoning, wat die sportnuts-segment van die mark geheel en al oorheers,” sê Crompton.
Wat vragmotorverkope betref, het Hino Suid-Afrika ’n stewige 321 eenhede van die hand gesit – en dit in ’n deel van die mark wat ’n voortgesette daling beleef. Dié deel van die medium en swaarhandelsvoertuigmark, wat baie gevoelig vir beleggings en besteding is, beleef maand ná maand ’n voortgesette daling wat hoofsaaklik toegeskryf kan word aan die vermindering in verkope weens vervangingsiklusse wat gewoonlik op ’n vyfjaar-grondslag werk en aan ’n algemene daling in sakevertroue gekoppel is.