Poulter en Howie derde in sneltrajek 3 in Dakar- Veldtydren

Leeroy Poulter se indrukwekkende begin in sy eerste Dakar-veldtydren het Dinsdag in Argentinië voortgeduur toe hy en sy navigator, Rob Howie, die rengedeelte in die 3e sneltrajek tussen San Luis en San Juan in die derde plek in hul Toyota Imperial Hilux voltooi en hul algehele posisie tot 10e verbeter het.

Hulle het ’n tyd van 3 uur 2 minute en 11 sekondes oor die rengedeelte van 301 kilometer aangeteken – 3 min 19 sek stadiger as die sneltrajekwenners, Nani Roma van Spanje en Michel Perin van Frankryk (MINI), en 2 min 12 sek agter die Poolse/Russiese jaers Krzysztof Holowczyc en Konstantin Zhiltsov (MINI). Roma en Perin is ná die eerste drie sneltrajekte in die eerste plek algeheel en is 9 min 6 sek voor Orlando Terranova van Argentinië en Paulo Fiuza van Portugal (MINI), en 10 min voor Nasser Al-Attiyah van Qatar en sy Spaanse navigator, Lucas Cruz (MINI). Die Suid-Afrikaners is 45 min 10 sek agter die voorjaers.

Dit was nog ’n puik vertoning deur Poulter, wat die talle klipperige gedeeltes in rivierbeddings waar baie ander pap wiele opgedoen het, versigtige benader het en die vinniger, tydrenagtige dele wat baie soortgelyk aan Suid-Afrikaanse toestande is, volspoed aangedurf het.

“Ons het ’n foutvrye lopie gehad en uit die moeilikheid gebly,” het ’n glimlaggende Poulter by die oornaghalte by Autodromo El Zonda gesê. “Ons was relatief versigtig in die klipperige gedeeltes ten einde nie met pap wiele te sukkel nie, en het goed in die vinniger, oop gedeeltes ingehaal. Stof was weer ’n probleem, wat dit baie moeilik gemaak het om ander motors verby te steek.

“Die toeskouers is fantasties. Hulle staan aan weerskante van die strate in die stede en dorpe van die ooppadgedeeltes en selfs in lang dele van die rengedeeltes. Hulle juig ’n mens luidkeels toe en hul ondersteuning is bemoedigend. Dit is waaroor die Dakar gaan, en ek is dol daaroor.”

Hul Toyota Imperial-spanmaats Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz het hul sesde posisie algeheel behou ten spyte van die feit dat hulle drie pap wiele gehad en die dag se sneltrajek in die 13e plek voltooi het. Hulle het vir die dag meer as 13 minute teenoor die voorjaers afgestaan, en is nou 26 minute agter Roma en Perin.

“Die sneltrajek was baie moeiliker as wat ons verwag het – baie tegnies met talle doringbosse en klippe,” het De Villiers gesê. “Ons ingeboude domkrag het nie gewerk nie, dus moes ons die eerste twee pap wiele met ’n handdomkrag ruil. Ons het met die eerste een gesukkel, wat ons ses tot sewe minute gekos het, maar het die tweede een in net vier minute geruil. Ons het die rengedeelte met ’n derde pap wiel wat stadig gelek het, voltooi.

“Ons het ons sesde plek suksesvol verdedig. Die bedoeling was om die gaping tussen ons en die voorjaers te verklein, maar nou is ons nog verder agter. Ons sal die volgende paar dae maar kyk wat ons daaraan kan doen.”

Die deelnemers het Woensdag ’n veeleisende 658 kilometer se rengedeelte sowel as 200 kilometer op die oop pad tussen San Juan en Chilecito voor hulle. Dié sneltrajek oor 858 kilometer is die langste sedert die geskiedkundige sneltrajek in 2005 van Zouerat tot Tichit in Afrika. Hulle sal deur riviere en skeurvalleie in ’n eg Wilde Weste-omgewing moet ry en op die uitkyk vir ander deelnemers moet wees – groot, oop ruimtes sal dit maklik maak om verby te steek.

Die eerste motor vertrek om 06:15 (11:15 SA tyd) van die San Juan-oornaghalte en word om 17:25 (22:25) by die oornagpunt in Chilecito verwag.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, 5Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

Posted on by jonckie

Comments Off on Poulter en Howie derde in sneltrajek 3 in Dakar- Veldtydren