Vrystaat Landbou verwelkom LUR se intervensie in Klaarwater area

Die LUR van Polisie, Paaie en Vervoer, mnr Sam Mashinini, het op 28 April tydens die oorgrens vergadering op die plaas Klaarwater in die Zastron-distrik, die versekering gegee dat verskeie aspekte daadwerklike aandag sal geniet. Verskeie rolspelers vanuit Lesotho en Suid-Afrika waaronder die SANW, SAPD, plaaslike landbougemeenskappe en eweknieë uit Lesotho het byeengekom om die onwettige binnekoms van Lesotho-burgers en vee in die Klaarwater-area te bespreek.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), noem dat die LUR onder meer die versekering gegee het dat hekke waardeur onwettige binnekoms van Lesotho-burgers in die Klaarwater-area toegespan gaan word. Verder is besluit dat die grenspad aan die Suid-Afrikaanse kant, wat in ʼn bedenklike toestand is, met behulp van die provinsiale geel vloot geskraap gaan word ten einde die SANW en die SAPD te bemagtig om patrollerings van die grens te doen en ook om hul reaksietyd te verhoog. “Die verbetering van die grenspad sal beter sigbaarheid teweeg bring wat ʼn vermindering in misdaadaktiwiteite tot gevolg kan hê.” meen Wilken. “Dit gaan ʼn beduidende impak op verbeterde veiligheid van landbougemeenskappe in die area hê.”

Wilken noem dat die LUR die Lesotho’s ingelig en bewus gemaak het dat hulle geensins die internasionale grens mag oorsteek, behalwe by ʼn grenspos nie. Dit is ook duidelik uitgewys dat hulle die nodige permitte en kontrakte van boere moet bekom om te verseker dat gehoor gegee word aan die Wet op Basiese Indiensneming.

Wilken noem verder dat misdade deur sekere groeperinge en of sindikate wat in die onderskeie areas opereer, die gemeenskappe aan weerskante van die grens benadeel. ’n Versoek is daarom gerig dat beter samewerking tussen Lesotho en Suid-Afrikaanse wetstoepassers sal plaasvind ten einde reaksietye op te skerp asook om kriminele wat oorgrens opereer, vas te trek. “Ons versoek landbougemeenskappe om alle misdade aan te meld en onder die aandag van die SAPD, wat ook saam met die SANW gesamentlike misdaadoperasies in die area sal beplan en van stapel stuur, te bring.”

Wilken spreek die hoop uit dat die intervensie deur die LUR vrugte sal afwerp en meen dat soortgelyke intervensies by alle grensdorpe se landbougemeenskappe moet plaasvind.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou verwelkom LUR se intervensie in Klaarwater area

Category: Veiligheid