Waarnemende polisie stasiebevelvoerder en sy makker aangekeer vir veediefstal in Frankfort

’n Waarnemende polisie stasiebevelvoerder en sy makker, ’n voorheen veroordeelde veedief, het gister in die Frankfort-hof op aanklag van veediefstal verskyn. Die mans is Maandag op heterdaad betrap waar hulle vyf skape op die plaas van Danie Muller gesteel het.

Deon van der Watt, streekverteenwoordiger van Vrystaat Landbou (VL) en boer in die Tweeling/ Frankfort-area, het bevestig dat ongeveer 65 boere van die omgewing gister voor die hof byeengekom het waar die twee mans op aanklag van veediefstal verskyn het. Volgens Van der Watt, het die boere voor die hofverrigtinge aan die staatsaanklaer te kenne gegee dat hulle die borgtog verrigtinge sal bywoon.

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, sê dat veediefstal en polisiekorrupsie ’n wesenlike probleem in landbou is wat al jare problematies is. Buys het bevestig dat VL reeds in Oktober 2020 die minister van polisie, mnr Bheki Cele, versoek het om taakspanne saam te stel om polisie betrokkenheid by veediefstalsindikate en plaasaanvalle te bepaal en te ondersoek.

Die twee verdagtes bly in aanhouding en sal Woensdag, 31 Maart weer voor die hof verskyn. VL beplan om die hofverskyning by te woon en te versoek dat die staat borg opponeer, aan die hand van inligting en statistieke wat aan VL bekend is.

Posted on by jonckie

Comments Off on Waarnemende polisie stasiebevelvoerder en sy makker aangekeer vir veediefstal in Frankfort

Category: Veiligheid Tags :