Nóg ‘n plaasaanval op bejaarde boer langs Lesotho-grens

Vrystaat Landbou (VL) het meer as 350 grensboere as lede wat by 10 dorpe langs die Lesotho grens boer. Die afgelope dekade het misdade teen die RSA/Lesotho grens meer as 500 boere genoop om boerdery te staak.

Francois Wilken, president van VL, het sy misnoeë uitgespreek met die ernstige geweldsmisdade wat plaasaanvalle insluit, wat besig is om in landbougemeenskappe langs die Lesothogrens toe te neem.

In ‘n kwessie van 12 dae het 3 plaasaanvalle voorgekom by onderskeidelik Kommissiepoort, Zastron en Boesmanskop-area. In al die gevalle is weerlose ouer mense aangeval, wat in 2 gevalle alleen woonagtig is. Kontant, selfone en vuurwapens is deur 3 tot 5 aanvallers geroof. Werkers is ook in die Hobhouse-area gedurende die inperkingsperiode aangeval. Sulke aanvalle dra grootliks daartoe by dat boere hul plase verlaat en ophou boer en die grensbuffer al verder na die binneland skuif.

Wat Lesotho betref, blyk dit dat politieke onstabiliteit en die feit dat baie Lesotho burgers nie kan terugkeer werk toe in die RSA nie, asook die tekort aan basiese voedsel, die groot dryfvere vir oorgrensmisdade is. Dit is kommerwekkend dat veral vuurwapens konstant tydens plaasaanvalle geroof word, wat moontlik dui op groter interne konflik en onstabiliteit in Lesotho.

Volgens Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, is mev Daleen van der Hoeven, wat in haar 80’s is, ernstig beseer tydens ‘n plaasaanval wat vroeg vanoggend (3 Julie 2020) in die Boesmanskop-area plaasgevind het. Aanvallers het van der Hoeven in haar eie voertuig ontvoer tot by die grens en haar daar gelos. Sy kon daarin poog om te gaan hulp soek by Lesotho’s wat aan haar bekend is. Hulle het die plaaslike boere gekontak wat kom help het.

Gert van der Walt wat 6 dae gelede op sy plaas Brakfontein in die Zastron-area aangeval is, het 6 dae voor die aanval ‘n klagte van betreding by die polisie aangemeld. Daar is egter nie aandag daaraan gegee nie.

Probleme t.o.v. diensbaarheid van polisievoertuie kom by talle polisiestasies in die Vrystaat voor. Landelike veiligheidsverteenwoordigers se voertuie is in baie gevalle weggevat deur stasiebevelvoerders vir verrigting van ander dienste. Dit het tot gevolg dat dienslewering deur die polisie in landelike gebiede ernstig geraak word.

VL versoek die provinsiale kommissaris om ‘n daadwerklike ondersoek te las na beskikbaarheid van voertuie en hulpbronne in landelike gebiede, asook die moontlikheid dat ‘n voorsieningsfonds vir die herstel van polisievoertuie op plaaslike vlak tot stand gebring kan word om bande, batterye en kleiner herstelwerk aan plaaslike voertuie te befonds. Dit sal ‘n groot effek op meer diensbare voertuie by polisiestasies hê.

Martin de Kock, streek veiligheidsverteenwoordiger van VL, is van mening dat landbougemeenskappe teen die Lesothogrens bloei onder ernstige gewelds- en ekonomiese misdade. Verskerpte patrollies deur die Weermag is al deur VL versoek, veral in die Boesmanskop en suidelike gedeelte van die Vrystaat. By onwettige oorgange wat al dekades lank in die area bestaan, beweeg meer as 50 voertuie en meer as 200 mense gedurende naweke oor die grens. Daar is meer as 25 sulke onwettige oorgange tussen die RSA en Lesotho. Die impak en omvang van die grensmisdade op boere neem toe.

Tommie Esterhuyse, vise-president van VL meld dat Agri SA op 31 Oktober 2019 ‘n vergadering met president Cyril Ramaphosa aangevra het welke die versoek op 21 Januarie 2020 herhaal is, maar geen terugvoering is ontvang nie. Die regering versuim steeds om prioriteit aan die grenssituasie te verleen.

VL doen ‘n ernstige beroep op boere om hul veiligheid voortdurend op te skerp en meer paraat te wees met aanvalle wat besig is om toe te neem.

Posted on by jonckie

Comments Off on Nóg ‘n plaasaanval op bejaarde boer langs Lesotho-grens