Gebruik van Tegnologie volgens luisteraar een van die manie om padsterftes te verminder

So praat ons saam in Afrikaans dat die spoeg spat … ander doen dit in Engels en bereik niks.

Hierdie is nie ʼn advertensie nie maar ʼn eerlike opregte bydrae tot die vermindering van pad-sterftes en padongelukke. Miskien het u die vorige bydrae as ʼn advertensie gesien en sonder om dit te lees uitgewis … of miskien is die woord spoeg te platvloers, alhoewel die ATKV die woord gebruik as ʼn advertensie oor die radio in; die tale wat ons praat.  Ek sal dit egter waardeer as u tog die bydrae in geheel sal lees.

Gebruik u steeds ʼn antieke tikmasjien of die nuutste tegnologie tot u beskikking?

Swaar verkeer word reeds oral ervaar vanaf die begin van die Desembervakansie op ons land se onbewaakte weë na vakansieoorde. Dit sal steeds toeneem tot Kersfees en Oujaar. Skielik ʼn dag of twee na Nuwejaar wil almal tegelykertyd die terugtog aanpak en moet ons staatmaak op verouderde uitgediende stelsels van dreig met hoë boetes, tronkstraf, konfiskering van voertuie, uitgeputte wetstoepassers, omkoop, swak paaie ens.

Weer sal daar gepraat word oor al die ongelukke en die toename in pad-sterfte en dieselfde verskonings en oplossings sal aangevoer word. Die beste “deskundiges” vanuit die privaatsektor sal genader word om as gaste te dien op inbelprogramme en ʼn oplossing probeer vind soos in die verlede vir die probleem. Vir baie jare wat hierdie programme nou al aangebied word het die ongelukke en pad-sterfte elke bykomende jaar die vorige jaar se rekordsyfers oortref en sal so voortgaan as ons nie dit wat reeds bestaan gebruik nie.

Hier volg ʼn direkte aanhaling vanaf RSG se webtuiste: LUISTER] “In een oomblik verander alles”. “Dit is hoe maklik ‘n ongeluk kan gebeur.” Dit is van die vele stellings wat jy jaarliks tydens padveiligheidbewusmakingsveldtogte hoor. Volgens statistiek van die Padverkeersbestuurskorporasie, word ten minste 4 mense ernstig beseer vir elke persoon wat op Suid-Afrikaanse paaie sterf. Volgens die jongste statistiek van 2016, is net meer as 14 duisend mense in dié jaar op ons paaie dood. Melissa Tighy het die verslag saamgestel, na haar besoek aan ‘n rehabilitasiehospitaal in Johannesburg. (Hierdie rehabilitasiehospitaal maak ook gebruik van gevorderde tegnologie. Indien die Padowerheid dit ook gedoen het, kon hierdie persone steeds ʼn normale lewe gelei het in plaas van hierdie abnormale toestande).

Waarom al die “deskundiges” en die media, ingesluit die SABC wegskram vir ʼn werklike oplossing binne hulle bereik gaan my verstand te bowe. Ons gebruik dit elke dag van ons lewens en dit is die tegnologie tot ons beskikking.

Stede en Metropole wêreldwyd maak daarvan gebruik. Dit het misdaad drasties laat afneem in stedelike gebiede. Dit het gelei tot die verbetering van verkeersvloei en die afneem van ongelukke, die afneem van verkeersoortredings en vele meer.

Ons moet toesien dat ons deel word van hierdie uiters gevorderde tegnologiese (digitale) rewolusie en waar is ʼn beter plek as op ons padnetwerk. Elke jaar word daar ʼn beroep op motoriste gedoen, ook hierdie jaar, om die pad reëls te gehoorsaam, handhaaf ʼn veilige volgafstand ens. ens. ens. Natuurlik moet ons dit ook doen. Ongelukkig werk dit nie en die bewyse is die toename in padongelukke en sterftes jaarliks. Dit help nie om vir ʼn alkoholis te waarsku teen die gevare van drank nie. Hy/sy moet eers bereid wees om gerehabiliteer te word, al moet ons hulle dwing … dieselfde geld vir roekelose/nalatige padgebruikers. Ons moet hulle dwing …

Hierdie tegnologie moet uitgebrei word na die landelike gebiede. Elke kilometer pad moet toegerus word met hierdie tegnologie. Dadelik sal almal hulle hande na bo gooi, veral daardie “deskundiges” en sê; “nooit, dit is onbekostigbaar …” sonder dat hulle ʼn vooraf berekening gemaak het. Begin by daardie vernaamste hoofweë waar die meeste padongelukke en sterftes voorkom en dit stelselmatig uitbrei totdat dit volledig gedek is. Ons moet aanpas by die tegnologiese omstandighede wêreldwyd tans.

Verlede jaar se kostes was deur die minister bekendgemaak. Dit was miljarde rande wat padongelukke die Staat gekos het. Miljarde rande jaarliks kon reeds al ons vername hoofweë vir elke kilometer gedek het.

Daar word reeds gebruik gemaak van die bekende “sod” kameras (speed over distance) in landelike gebiede wat uitstekend werk. Dit wat gebeur tussen daardie kameras, is wat belangrik is. Almal van ons … of dan die meeste, het die GPS stelsels in hulle voertuie wat die akkurate spoed van die voertuig meet en so programmeer jy daardie apparaat om die gemiddelde spoed uit te werk. Sou jy as gevolg van swaar verkeer of vragmotors teruggehou word, outomaties verhoog daardie gemiddelde spoed – en buig of bars – en of jy nou ʼn klomp ander ernstige oortredings begaan, wil jy bly by daardie spoed. So kom jy weg met roekelose bestuur en kan jy ook nie gevang word vir spoed nie want as jy die volgende stel kameras bereik kan dit ook net jou gemiddelde spoed oor daardie afstand bepaal en dit het jou GPS reeds kilometer vir kilometer gegee … of oor dieselfde distansie. Dit is net die onkundiges wat nog gevang word met hierdie kameras. Die verkeersowerhede vertel ʼn vals storie aan die publiek deur te sê dat die spoed het verminder. Dit het nie … inteendeel dit het verhoog aangesien jy dit kan manipuleer met ʼn GPS stelsel.

Ons almal word gewaarsku as daar verkeersbeamptes op die pad vorentoe is. Onmiddellik is ons die mees wet-gehoorsaamste-padgebruikers. Sodra ons buite sig of opvangs is verval ons weer in ons ou slegte gewoontes en word die pad-eienaars.

Die meeste mense werk die beste as hulle gedurig onder toesig is. Dit geld ook vir padgebruikers. Wanneer jy weet jy word dopgehou sal jy nie iets doen wat jou tot nadeel sal strek nie en dit is waarom kameras elke kilometer van ons land se paaie moet dek en ons bewus daarvan is dat ons die heeltyd en die volle lengte van ons rit dopgehou word. Dit moet gedurig binne jou gesigsveld wees en na beide kante waarneem.

Ek hoor alweer die “deskundiges” “… en hoe gaan ons dit regkry en bekostig?”

Baie maklik. Ek het reeds verwys na die miljarde rande se kostes. Infrastruktuurskepping is ʼn eenmalige bedrag. Die voordele wat hierdie Infrastruktuur verskaf is legio en is nie nodig om deur die geldgierige privaatinstansies onderhou te word nie.

Ons miljoene werkloses kan ingespan word en hiermee bedoel ek juis daardie werkloses in ons plattelandse dorpe. Al ons plattelandse dorpe het Staats-, Spoornet geboue wat leeg staan en dit kan aangewend en omskep word as sentrums wat ʼn 24/7 toesighouding het oor die verkeer op die pad. Drie agtuur skofte per dag kan ingestel word. Dink aan al die voordele …

  • Die platteland gaan gebuk onder werkloosheid. Ons almal weet van die verskriklike armoede, dwelmmisbruik, drankmisbruik, verkragtings, geweld teen vroue en kinders, misdaad, swak ekonomiese toestande, swak infrastruktuur en vele meer. Dit kan omgekeer word deur ʼn eenvoudige oplossing te implementeer vir al die padongelukke en sterftes.
  • Verkeersbeamptes kan onmiddellik aandag gee aan oortreders en meer betrokke wees by padblokkades en nie doelloos honderde kilometer per dag aflê nie. Beter aandag aan onpadwaardige voertuie en dronkbestuurders by hierde padblokkades wat ook onder kamera toesig geskied. Bedrog en omkopery word dadelik vasgevang en vele meer.
  • ʼn Landwye ineengevlegte Netwerk van verkeersvloei en probleemareas. Uitruiling van inligting oor probleme en oortreders tussen dorpe landwyd. Elke dorp stad kan inskakel by die totale Netwerk en sien wat aangaan in elke gebied. Oortreders, kriminele, smokkelaars en ander kan nie wegkom nie en kan gevolg word van begin tot eindbestemming. Voertuig kapings, transito rooftogte kan verhoed of onmiddellik opgevolg word.
  • Onmiddellike aandag aan padongelukke en beseerdes enige tyd van dag of nag. Opruimings van ongelukstonele kan vinniger geskied.
  • Diere op paaie kan onmiddellik waargeneem word.
  • Die padowerheid vasgestel by wetgewing neem beheer van die stelsel, administreer dit, doen die instandhouding en skep nuwe infrastruktuur.

Weereens is die voordele legio en kan selfs ander gebeure wat niks met paaie te doen het nie ook hierby betrokke raak. Voorbeelde is veldbrande, oorstromings ens.

Eskom stel ʼn goeie voorbeeld. Hulle dink meer van die lewens van voëls as wat die padowerhede en die media van die lewens van mense dink. Hulle gebruik dieselfde tegnologie om hulle Netwerk van duisende kilometer kraglyne met kameras te bewaak en om sodoende te bepaal waar die ergste voorvalle voorkom van voëls wat daarteen vas vlieg.

“Deskundige” gaste op hierdie programme moet ophou om modewoorde te gebruik en ander daarmee te probeer beïndruk. Dit bied in elk geval nie ʼn oplossing nie. Moet nie net beriggewers wees nie. Gaan oor tot die daad, want dade spreek deur feite, en kry hierdie kameras/tegnologie op ons paaie, gee ons werkloses ʼn inkomste, verdryf die euwel van roekeloosheid en omkoop en bring blydskap by geliefdes wat veilig tuisgekom het.

Daar is genoeg werklike deskundiges op die gebied van gevorderde tegnologie wat hiermee sal saamstem en wat ook deur u en ander instansies gebruik word.

Wees egter gewaarsku …! Daar is ʼn gevestigde Nywerheid met baie onderafdelings wat alles in hulle vermoë sal doen om enige werkbare oplossing vir die vermindering van padongelukke en sterftes sal teengaan. Miskien was van die “deskundige” gaste op programme soos die van u, ook van hierdie groep Nywerhede wat teer op die verlies van ander en bedrog sal pleeg met eise, herstel, premies ens. ens.

Groetend

PC Fourie

 

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Gebruik van Tegnologie volgens luisteraar een van die manie om padsterftes te verminder