Toyota borg eerste paraplegiese Cape Epic-bergfietsspan

Twee bekende para-fietsryers sal in Span Toyota-kleure vir Suid-Afrika se strafste bergfietsren pronk.

Span Driepoort Toyota, bestaande uit Reuben van Niekerk en Dane Wilson, sal aan die Absa-Cape Epic-bergfietsren, wat oor agt dae in die Wes-Kaap beslis word, deelneem.
Hierdie entoesiastiese fietsryers sal 698 km aflê en 15 650 m oor die agt dae klim. Die ren begin op 17 Maart by die Meerendal-wynlandgoed in Durbanville en eindig die 24e Maart by die Lourensford-wynlandgoed in Somerset-Wes.

Toyota Suid-Afrika staan vierkantig agter Suid-Afrikaanse sport met talle borgskappe vir atletiek, fietsry en rugby. Toyota is ook die afgelope vyf jaar die ononderbroke amptelike voertuigborg vir die Comrades-marathon, en is ’n ou vennoot van die Cycle Lab SuperCycling-klub. Toyota borg Cheetah-rugby ook al die derde agtereenvolgende jaar.

Kerry Roodt, Hoofbestuurder van Toyota Suid-Afrika se afdeling vir Bemarkingskommunikasie, het die volgende oor hul borgskap van Span Driepoort Toyota gesê:
“Ons betrokkenheid by Span Driepoort Toyota en die Absa Cape Epic-bergfietsren is ’n logiese verlenging van ons steun aan die Toyota-Cycle Lab SuperCycling-klub. Ons glo dat Span Driepoort Toyota die weg vir verdere ontwikkeling van para-fietsryers regoor die wêreld sal help baan en wêreldwyd as aansporing sal dien.”

Reuben en Dane ry al vir ’n hele rukkie saam op die baan en op die pad, en is dus nie vreemdelinge vir mekaar nie. Die span volg ’n streng dieetplan en oefenskedule, en oefen twee of drie keer per week saam mits hul besige skedules dit toelaat.

“Ons werk al twee voltyds, wat ons net naweke kans gee om te oefen. Ons neem ook al twee aan baanfietsrenne deel en sal soms in die week ’n baan-oefensesssie inpas as ons werkskedules dit moontlik maak,” sê Dane.

Reuben, ’n voltydse motorjoernalis en jurielid van die Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste, sal die eerste keer deelneem. Dane, wat as projekbestuurder werk, sal die tweede keer aan die Absa Cape Epic-bergfietsren deelneem. Dane het in 2012 ook aan die UCI Para-fietsry-Wêreldbaanrenkampioenskap deelgeneem en die Suid-Afrikaanse C5-rekord oor 4 000 m verbeter.

Reuben sê sy renverwagtinge is as volg: “Ek weet nie werklik wat om te verwag wat die terrein betref nie, aangesien ek nog nie juis baie in die Kaap gejaag het nie, maar een ding is seker – dit gaan moelik wees! Die Epic is berug dat dit ’n taai ren is, maar ek is reg vir die swaarkry,” sê hy.

“Dit kan nie betwyfel word dat die Absa Cape Epic-bertgfietsren moeilik gaan wees nie, maar ons glo dat Span Driepoort Toyota ons met behoorlike voorbereiding, harde werk en die regte aansporing trots sal maak. Ons wens hulle alles van die beste vir die ren toe en is heelpad agter hulle,” sluit Roodt af.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota borg eerste paraplegiese Cape Epic-bergfietsspan