Wat is die Fynskrif in Versekeringskontrakte?


Dikwels lees ons en hoor ons dat die verbruiker gewaarsku word om bedag te wees op die “Fynskrif” in polisse en versekeringskontrakte. Maar wat is hierdie fynskrif waarteen ons gewaarsku word?

Fynskrif is niks anders as belangrike bepalings waarop gelet moet word voordat ‘n versekeringskontrak onderteken moet word nie. Dit is nie iets wat weggesteek is in die kontrak of waarvan ‘n kleiner letter tipe op die bladsy gaan verskyn nie.

Fynskrif behoort geintrepreteer te word as daardie bepalings waarop besonder fyn gelet moet word en waarvan die omvang behoorlik in ag geneem moet word ten einde te verseker dat geen onaangename verrassings ten tyde van die indien van ‘n eis hul opwagting maak nie. Een so ‘n voorbeeld sal wees uitsluitingsklousules. Dit is gepas dat ons ‘n voorbeeld gebruik om dit te illustreer.

Voorbeeld: Bepaling tov Alarmstelsels

U versekeringskontrak wat beskerming verleen teen die verlies aan huisinhoud mag heel moontlik bepaal dat versekering slegs gebied sal word indien die alarmstelstel aangeskakel sal wees wanneer daar nie iemand op die perseel aanwesig is nie.

Indien u huisinhoud gesteel word tydens ‘n inbraak, terwyl die alarmstelsel nie geaktiveer was nie, sal die versekeraar heeltemal geregtig wees om die versekeringseis van die hand te wys. Dit is dus nie ‘n geval van fynskrif wat die versekerde kliente benadeel het nie, maar bloot ‘n bepaling in die ooreenkoms wat nie nagekom is deur die versekerde nie.

Verdere voorbeelde sal insluit by voertuigversekering bepalings ten opsigte van die versekerde bestuurders van voertuie, die doel van gebruik van voertuie ens.

Meer Aandag by Sluit van Kontrak

Die waarskuwing om bedag te wees op fynskrif is ‘n waarskuwing om meer noukeurig te let op die bepalings in versekeringskontrakte. ‘n Bietjie langer aandag gee tydens onderhandelinge oor versekering mag baie tyd spaar by ‘n geskil rakende ‘n versekeringseis!

Die Wet Op Gebruikersbeskerming het ten doel om die gebruiker te beskerm deur te verseker dat versekeringspolisse en kontrake in eenvoudige en verstaanbare taal aan die kliënt gebied moet word.

Ons sal in verdere besprekings in meer besonderhede let op hierdie beskerming en veral die uitsluitingsklousules waarop gelet moet word.

Posted on by jonckie

Comments Off on Wat is die Fynskrif in Versekeringskontrakte?