Is dit regverdig dat vroue bestuurders minder betaal vir versekering?

‘n Bekende skrywer het eendag geskryf “Men are from Mars, Women are from Venus”. Ons verskil eenvoudig baie en ons kan ook nie die geleentheid laat verbygaan om met mekaar te skerts en hierdie verskille te beklemtoon nie. Bogenoemde vraag word dikwels in ‘n gewysigde vorm gestel, naamlik – Wie is die beste bestuurders –mans of vroue?

In hierdie bespreking wil ek egter nie laasgenoemde vraag bespreek nie maar eerder fokus op die “regverdigheid” van die verskil in premies. Daar is ‘n baie spesifieke rede waarom dit vir ons op hierdie stadium van belang is – en hierdie rede vind sy oorprong in Europa.

Europese Beslissing oor Geslagsgelykheid en Versekering

Die Hoogste Hof in Europa het vroeër vanjaar beslis dat versekeraars vanaf 2012 verbied sal word om ‘n onderskeid te tref bloot op grond van geslag tussen mans en vrouens wanneer versekeringspremies bepaal word. Daar is besluit dat sodanige onderskeid diskriminerend is.

Wat is die verwagte impak van hierdie beslissing?

‘n Studie deur ‘n versekeringsorganisasie in Duitsland het bevind dat Europese vroue tot 11 persent meer sal moet betaal vir voertuigversekering as gevolg van hierdie beslissing. Die versekeringsindustrie het sterk teenkanting teen die beslissing gemaak en voer aan dat daar heeltemal regverdige redes is waarom prysbepaling tussen die geslagte verskil aangesien die versekeringsprofiel van die geslagte heeltemal verskil.

Hierdie kritiek vorm die basis vir die bespreking na die regverdigheid van verskillende premies vir mans en vrouens!

Versekering en bepaling van Risiko

Versekering gaan oor risko en die wetenskaplike bepaling van risiko. Ons kan dit baie eenvoudig soos volg opsom:
Aktuarisse verwerk verskeringseise tot in die feinste detail en en bepaal dan wat die risiko is dat ‘n bepaalde klient of groep van kliente eise sal indien teen die versekeraars. Uit honderde duisende eise is hul in staat on deur wiskundige formules bepaalde risikoprofiele saam te stel. Daar word soms verwys na “versekerbare risiko’s”.

Feite oor vroue bestuurders en versekeringseise

Dit is ‘n feit dat die hoeveelheid eise en die soort voertuigversekeringseise deur vroue verskil van die van mans. Statisties gesproke is die waarskynlikheid dat vroue bestuurders ‘n eis sal instel teen die versekeraar bloot laer as die van mans agter die stuurwiel. Dit is juis hierdie verskil wat die weg gebaan het tot die ontstaan van versekeraars wat versekering net aan vroue verleen.

Waarom hierdie verskil in eise?

As gevolg van die verskil in die wyse hoe en waar ons bestuur verskil nie net die hoeveelheid eise nie, maar ook die omvang van die eise vir skade. Mans bestuurders is oor die algemeen geneig om vinniger te bestuur en meer kanse te neem as vroue bestuurders. Vroue daarenteen is meer geneig om ongelukke te maak teen laer spoed en minder ernstige ongelukke.

Mans is meer geneig om ‘n ernstige ongeluk te maak wat lei tot die sogenaamde “afskryf” van die voertuig, terwyl vroue bestuurders dikwels kleiner “buffer-buig” of “fender bender” ongelukke sal maak. Hierdie ongelukke sluit in ongelukke in die parkeerarea, teen die randsteen en teen ‘n vaste voorwerp. Die voertuig kan dus makliker herstel word en die uitgawe vir die versekeraar is aansienlik minder as die totale vervanging van die voertuig.

Dit is baie belangrik om daarop te let dat hierdie gegewens nie maar blote aannames is nie, maar wel wetenskaplik en wiskundig bewysbaar is deur die ontleding van honderde duisende versekeringseise.

Met die hedendaagse telematiese moniteringstoestelle in voertuie is dit selfs makliker en meer akkuraat om die wyse van betuur te ontleed en kan versekeraars ‘n versekeringspremie bereken volgens die spesifieke bestuurder se wyse van bestuur.

Gevolgtrekking

Ek is van mening dat daar met die kritiek teen die beslissing in Europa saamgestem moet word. Dit is na my mening nie diskriminasie om ‘n onderskeid te tref waar die berekening van premie nie bloot op ‘n onderskeid in geslag berus nie , maar wel op wetenskaplik bewysbare inligting en ontleding van versekeringseise.

Die versigtige of onverskillige bestuurder van beide geslagte se versekeringspremie sal ook nie dieselfde bly nie maar opwaarts en afwaarts aangepas kan word soos inligting oor sy versekerings en eise rekord in ag geneem word!!

Posted on by jonckie

Comments Off on Is dit regverdig dat vroue bestuurders minder betaal vir versekering?