Stel eise teen swak paaie en verliese – Vrystaat Landbou

Gemeenskapslede van regoor die Vrystaat is woedend na aanleiding van die soveelste motorongeluk op die R103 tussen Warden en Vrede waarin ʼn jong onderwyser en twee vragmotor insittendes verlede week Vrydag oorlede is.

“Die regering se arrogante en ongeërgde houding kan nie meer geduld word nie. Hoeveel lewensverliese moet daar nog wees voor die regering gaan optree?” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou.

Wilken meen die departement van paaie moet aanspreeklik gehou word vir die ongelukke, weens die nalatigheid om die paaie voldoende in stand te hou en te herstel waar nodig.

Volgens Johann du Toit, ’n skoolhoof in die Memel-omgewing en een van die eerste persone op die toneel waartydens die drie persone verlede Vrydag oorlede is, meen die gemeenskappe van Memel, Warden en Vrede is moeg gepraat.

’n WhatsApp-groep onder leiding van Du Toit, skets die verhaal van die gemeenskappe se vrees om die paaie te gebruik en duisende rande se skade aan voertuie weens die haglike verval. Die drie gemeenskappe is in die proses om ’n komitee saam te stel wat verskeie aksies, soos ’n petisie, sal bespreek om optrede van die departement te eis.

Intussen moedig Francois Wilken die publiek aan om gebruik te maak van die eis prosedure en eisvorm vir skade aan ’n motorvoertuig, soos voorsien deur die departement van paaie. Hy versoek ook dat ’n afskrif van die voltooide dokument na indiening by die departement aan Vrystaat Landbou gestuur by info@vslandbou.co.za word vir rekorddoeleindes.

“Ons kan nie net terugsit en dinge aanvaar soos dit is en stilbly nie. Dit het lankal reeds tyd geword vir die regering om kennis te neem van gemeenskappe se ongelukkigheid. Ons gaan aanhou druk plaas tot daar resultate is.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Stel eise teen swak paaie en verliese – Vrystaat Landbou

Category: Voertuig Tags :