Man beseer toe gaskan ontplof tydens brand in ‘n kombuis van Oudtshoorn woning

‘n Buurman wat ‘n vrou te hulp gesnel het nadat ‘n gaskan in haar kombuis ‘n brand veroorsaak het, is beseer toe die gaskan ontplof het.

Volgens die eienaar van die huis in Wesbank het sy vrou die gaskan laat vul en dit aangesteek terwyl hy in die dorp was. Toe sy dit aansteek was daar ‘n vlam waar die plaat in die kan inskroef.

Sy het probeer om die kan toe te draai, maar kon skynbaar nie die vlam keer nie. Sy het paniekerig geraak toe die vlam groter raak en het probeer om die kan uit die huis uit te kry.

Volgens die man het die kan egter omgeval en voorwerpe in die kombuis aan die brand gesteek. ‘n Buurman wat agter die huis woon het gereageer toe die vrou alarm maak.

Hy het met ‘n tuinslang deur die agterdeur probeer om die vlamme te blus toe die kan ontplof het.

Volgens die eienaar van die huis, wat gevra het dat name nie genoem moet word nie, is sy buurman in die hospitaal opgeneem met brandwonde en beserings wat hy opgedoen het toe glasskerwe van die ruite hom getref het.

Die skade aan die kombuis en die res van die huis beloop ongeveer R20 000. Sewe ruite, waarvan sommige in ander vertrekke is, is ook gebreek.

“Dit is ‘n bestiering dat my vrou en die buurman nie in die kombuis by die kan was toe dit ontplof het nie. Ek kan nie glo dat ‘n kannetjie van 3 kg soveel skade kan aanrig nie,” het die man wat reeds 26 jaar in die huis woon, Dinsdag gesê.

Die brand het Maandagmiddag net na 17:00 ontstaan.

[Oudtshoorn Courant]

Posted on by jonckie

Comments Off on Man beseer toe gaskan ontplof tydens brand in ‘n kombuis van Oudtshoorn woning