Sakeliga: Permitte en voortsetting van bedrywighede tydens inperkingstyd

Sakeliga ondersteun die ondubbelsinnige boodskap van President Ramaphosa op 22 Maart dat 1) ondernemings wat hul bedrywighede op afstand en aanlyn kan voortsit dit moet doen, en 2) dat ondernemings wat deel van essensiële produksiekettings vorm oop moet bly. Hierdie standpunt is ook op 24 Maart 2020 deur Ebrahim Patel, Minister van Handel en Nywerheid bevestig.

Intussen word verskeie regulasies egter op die laaste oomblik en vol foute gepubliseer, en is dit regtig teleurstellend hoe staatsdepartemente dit vir besighede moeiliker in plaas van makliker maak om te weet wat aangaan.
Soos altyd sal dit raadsaam wees om bykomende regsadvies te bekom oor jou eie situasie, maar hier volg ons huidige beskouing van sake.

Die twee vernaamste botsende uitsprake is tans: 

Permitte vir essensiële ondernemings 

  1. Regulasies gepubliseer op 25 Maart 2020 bepaal dat ondernemings wat ‘n essensiële produk of diens verskaf mag oopbly. Ondernemings moet self permitte aan werknemers uitreik om werk toe te kom indien daardie werkers vir die genoemde goedere of dienste se lewering noodsaaklik is.
  1. Die departement van handel en nywerheid en die Kommissie vir Maatskappy en Intellektuele Eiendom (CIPC) het klaarblyklik ‘n tweede permitproses van stapel gestuur. Hier moet ondernemings nou (na die departement se mening) vir permitte aansoek doen om oop te kan bly om essensiële goedere of dienste te lewer. Sakeliga is egter nie bewus van enige regulasie wat die departement magtig om hierdie stap te neem nie, die webblad (www.bizportal.gov.za) is van lyn af, en die verwagte omkeertyd indien aansoeke uiteindelik ingedien word is na ons inligting tans 48 uur.
  2. Gevolgtrekking: Ondernemings betrokke in die lewering van essensiële goedere en dienste sal ‘n manier moet vind om sake voort te sit en die permitproses te begin sonder om te wag totdat die permit ontvang is.

Werk aanlyn en van die huis af 

  1. President Ramaphosa en minister Patel sê openlik besighede wat van die huis af kan voortgaan moet dit asseblief doen.
  1. Soos Sakeliga intussen uitgewys het, bepaal die regulasies wat op 25 Maart deur die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake uitgevaardig is egter dat alle nie-essensiële ondernemings alle bedrywighede moet staak, wat insluit die voortsetting van bedryfsaktiwiteite oor die internet en tuis.
  1. Gevolgtrekking: Die regulasies gepubliseer op 25 Maart bevat ‘n ooglopende fout en ondernemings se werknemers mag hul werk uit die huis en op die internet voortsit, solank daar aan alle ander regulasies voldoen word.

Wat jou te doen staan

Beginpunt: Bepaal jou essensiële dienste-status: 

Bepaal of jou onderneming onder die vrystelling vir essensiële goedere en dienste val of nie. Gebruik Bylaag B van die regulasies gepubliseer op 25 Maart 2020 deur die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake.

OPSIE A: Indien jou onderneming wel onder die vrystelling val: 

Stap 1: Voltooi hierdie eedsverklaring oor waarom jou onderneming ‘n essensiële onderneming is en dat jy in proses is om aansoek te doen vir ‘n ondernemingspermit by die CIPC (pas aan soos nodig).

Stap 2: Voltooi hierdie permitvorm (met komplimente van die LWO Werkgewersorganisasie – kontak hulle gerus) vir elke werknemer wat nodig is vir die handhawing van produksie van essensiële goedere of dienste. Reik die permit aan die werknemer uit en heg die eedsverklaring ten opsigte van die onderneming aan.

Stap 3: Versprei die eedsverklaring oor jou onderneming aan al die diens- en produkverskaffers in jou onderneming wat op hul beurt noodsaaklik is vir die handhawing van essensiële produksie en/of essensiële sorg, onderhoud en veiligheid in jou onderneming.

Stap 4: Doen aansoek vir die ondernemingspermit by www.bizportal.gov.za sodra die webblad werk, of by ‘n ander webblad waar die CIPC die permitstelsel bedryf, indien dit blyk dat hierdie permitproses voortgaan en deur die nodige regulasies ondersteun word.

Stap 5: Versprei die permit (indien en wanneer jy dit ontvang) aan al die personeel en diensverskaffers aan wie jy die eedsverklaring oorspronklik versprei het.

 

OPSIE B: Indien jou onderneming nie onder die vrystelling val nie: 

Stap 1: Bepaal of jou onderneming dienste of produkte lewer aan ‘n onderneming wat essensiële dienste of produkte lewer (en/of ‘n permit daarvoor ontvang het). Indien wel, gaan terug na opsie A en voer daardie stappe uit. Indien nie, gaan voort met stap 2 hieronder.

Stap 2: Bepaal watter onderhoud, sorg en veiligheidsmaatreëls in die onderneming essensieel is, selfs al doen die onderneming nie sake nie. Hierdie “care and maintenance” en veiligheidsdienste val klaarblyklik ook onder die regulasies vir essensiële dienste.

Stap 3: Voltooi hierdie eedsverklaring (of pas dit soos nodig aan) om aan te dui watter sorg, onderhoud en veiligheidsaspekte van die onderneming noodsaaklik is, selfs al bedryf die onderneming nie sake nie.

Stap 4: Voorsien werknemers en diensverskaffers wat nodig is vir noodsaaklike onderhoud, sorg en veiligheid van die nodige dokumentasie: In die geval van werknemers, voltooi hierdie permitvorm (met komplimente van die LWO Werkgewersorganisasie – kontak hulle gerus) vir elke werknemer en reik die permit aan die werknemer uit, met die eedsverklaring ten opsigte van die onderneming aangeheg. In die geval van eksterne diens- en produkverskaffers, voorsien hulle van die eedsverklaring en ‘n brief vanaf jou onderneming dat hul produkte en/of dienste noodsaaklik is.

Stap 5: Werk van die huis af en aanlyn, in soverre jou besigheidsmodel dit enigsins kan toelaat.

Stap 6: Versprei die permit (indien en wanneer u dit ontvang) aan al die personeel en diensverskaffers aan wie jy die eedsverklaring oorspronklik versprei het.
Uitnodiging 

Sakeliga nooi alle lede om ons te kontak indien hulle 1) verhoed word om ‘n essensiële diens te verrig of produk te lewer, 2) belemmer word om van die huis af te werk terwyl hulle aan alle toepaslike regulasies voldoen.

Vir arbeidsregverwante sake, kontak asseblief die LWO Werkgewersorganisasie. Lede van Sakeliga kom vir spesiale voordele by die LWO Werkgewersorganisasie in aanmerking.

Posted on by jonckie

Comments Off on Sakeliga: Permitte en voortsetting van bedrywighede tydens inperkingstyd

Category: Besigheid, Wetlik Tags :