Ombud van die motorbedryf van Suid-Afrika waarsku verbruikers teen kansvatters

Verbruiker pasop!

“Wees op julle hoede.” Dit is, in ‘n neutedop, die raad wat Johan van Vreden, die ombud van die motorbedryf van Suid-Afrika (MIOSA) aan verbruikers gee.

Volgens die Wet op Verbruikersbeskerming nommer 68 van 2008, word alle besighede wat binne die motor- en verwante industrieë handel dryf wetlik verplig om by die MIOSA te registreer. Dit sluit vervaardigers, handelaars, onderdele verskaffers, diensverskaffers en paneelkloppers in.

“Al die verantwoordelike rolspelers in die bedryf het reeds in belang van kliëntetevredenheid en die voorkoming van kliënte uitbuiting by die MIOSA geregistreer,” verduidelik Johan.

“Niemand sal hul siek kind na ‘n ongekwalifiseerde mediese praktisyn neem nie,” meen Johan. “Eweneens is dit belangrik dat ‘n voertuig wat gediens of herstel moet word slegs aan verskaffers wat gekwalifiseerd en by die MIOSA geregistreer is toevertrou word.

“Deur van diensverskaffers gebruik te maak wat nie by die MIOSA geregistreer is nie, ondersteun verbruikers individue en organisasies wat min agting vir die verbruiker het.

“Dit is ook uiters moeilik vir die MIOSA om verbruikers by te staan en te adviseer wanneer ongeregistreerde diesverskaffers betrokke is,” waarsku Johan.

Dieselfde geld vir motorfiets-, motorboot- en grassnyerhandelaars en diensverskaffers.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Ombud van die motorbedryf van Suid-Afrika waarsku verbruikers teen kansvatters