Wie is verantwoordelik vir die skade na ‘n motorongeluk en wat is die regsbeginsels om skade te verhaal?

Die vraag oor wie aanspreeklik is vir die skade na ‘n motorongeluk is nie ‘n maklike een nie. Die probleem is dat die persoon aan wie die vraag gestel word selde oor al die feite van die ongeluk beskik en dus huiwerig is om vinnig ‘n mening te waag! Dit is nou maar so dat daar altyd drie kante van die storie is- die een kant, die ander kant en dan die waarheid!

Op die Arrive Alive webwerf het ons hierdie vraag van nader bespreek onder die opskrif: “Answering the Question: Who is to blame for the Crash?”

Ons kan ook met reg vra wat is die toepaslike regsbeginsels en hoe kan motorversekering ons help om hierdie skade te verhaal? Dit word mooi saaklik saamgevat in ‘n nuusbrief van die regsfirma Heyns & Vennote Ing.

Ons haal graag hieruit aan:

“Wat gebeur met my motor nadat ek betrokke was in ‘n ongeluk en wie is verantwoordelik vir die skade?

Bo en behalwe die emosionele en finansiële spanning wat dit vir die persoon en sy familie veroorsaak, is daar ‘n hele paar regsbeginsels wat van toepassing is.

Die mees prominente regsveld wat van toepassing is as mense betrokke is in ‘n motorongeluk is dié van deliktereg. Deliktereg speel ‘n belangrike rol in die bepaling van wie aanspreeklik is vir die skade, indien enige. As die skade veroorsaak is as gevolg van die opsetlike of nalatige handeling of versuim van iemand anders (die derde party), sal daardie persoon gewoonlik aanspreeklik wees vir die skade wat die motoreienaar gely het. Daar is wel sekere verwere tot die beskikking van die derde party, maar dit val buite die bestek van hierdie artikel.

Die versekeringsreg kan ook hierin ‘n groot rol speel indien die motoreienaar versekering het. Die leerstuk van subrogasie sal hier van toepassing wees. Dit is ‘n aanvaarde beginsel in die versekeringsreg dat wanneer ‘n versekeraar ‘n versekerde volledig vrywaar teen verlies wat deur ‘n derde party veroorsaak is, is die versekeraar geregtig om in die naam van die versekerde die skade van die derde party te verhaal. Die beleid onderliggend aan hierdie leerstuk is om te verhoed dat die versekerde dubbele vergoeding ontvang vanaf sowel die versekeraar as die derde party.

Vanuit ‘n prosedurele oogpunt verkry die versekeraar die reg om regstappe in die versekerde se naam teen die derde party in te stel indien die versekerde steeds ‘n onbevredigde eis teen die derde party het. Hierdie beginsel veroorsaak dat die versekeraar dominus litis (meester in die geding) word, maar net in naam en ten behoewe van die versekerde. Die versekeraar word geregtig daarop om die verrigtinge in die naam van die versekerde te voer met die voorbehoud dat die versekeraar die versekerde volledig moes gevrywaar het en hom of haar ook moes gevrywaar het teen die risiko van regskoste wat uit die verrigtinge mag onstaan. Die versekeraar het geen onafhanklike eis teen die derde party nie, maar dwing net die versekerde se eis af vir die versekeraar se eie voordeel.

Om op te som, die motoreienaar sal self die derde party aanspreeklik kan hou mits hy nie versekering het nie. Indien hy wel het, en hy eis die skade van die versekering, sal die versekering die skade van die derde party verhaal in die naam van die versekerde. Die verhouding tussen die versekerde en die versekering is ‘n kontraktuele verhouding en indien enige van die partye versuim om hulle pligte na te kom, kan hulle aanspreeklik gehou word op grond van kontrakbreuk.

[Nota: Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.]”

Dit is maar altyd die beste om ‘n regsadviseur te kontak. Indien jy jou voertuig verseker het word hierdie proses namens jou hanteer en is dit nie vir jou nodig om rond te hardloop op soek na ‘n prokureur om jou hiermee te help nie. Dit is dus altyd aan te beveel dat jy jou voertuig verseker – dit sal baie ongerief en onkostes later uitskakel!

Posted on by jonckie

Comments Off on Wie is verantwoordelik vir die skade na ‘n motorongeluk en wat is die regsbeginsels om skade te verhaal?