Yaris verhef blitsbuks tot heel nuwe groen vlak

Detail van Toyota se nuwe konsepmodel by die Frankfurt-motorskou

Toyota het vir die ontwerp van sy Yaris R-hibriedmotor ’n supermini-konsepmodel wat enig in sy soort is, geskep. Die Yaris R-hibried, wat op ’n hersiene driedeur-produksiemodel gegrond is, wend Toyota se ren-hibriedtegnologie aan met ’n kragbron wat oor die 298kW (400 perdekrag) lewer. Die konsepmodel sal aanstaande maand die eerste keer by die Frankfurt-motorskou te sien wees.

Om dit eenvoudig te stel – die kragbron bestaan uit ’n petrolenjin van 1,6 liter wat as ’n wêreldwye renenjin gebruik word, en twee sterk elektriese motors wat die motor van intelligente elektriese aandrywing deur al vier wiele voorsien. Die motor gebruik ook ’n superkapasitor om energie te berg – net soos Toyota se TS030-Le Mans-hibriedmotor.

Die enjin is ’n turbo-aangejaagde viersilinder-eenheid met regstreekse inspuiting, en is deur Toyota Motorsport (TMG) ingevolge internasionale motorsportreëls ontwerp. Dit beteken die motor kan in ’n aantal verskillende renafdelings gebruik word. Die enjin dryf die voorwiele aan, terwyl elke agterwiel deur ’n elektriese motor van 45kW aangedryf word – dieselfde as dié wat in die gewone Yaris-hibried gebruik word.

Die verskillende dele van die hibried-kragbron werk alles saam om ’n maksimum van 309kW te lewer. Die twee elektriese motors werk as elektriese kragopwekkers wanneer die motor rem, en vul die petrolenjin se verrigting aan wanneer die motor versnel.

Superkapasitor

Die energie wat herwin word wanneer die motor rem, word net soos in die geval van Toyota se TS030-hibriedrenmotor in ’n superkapasitor geberg. Die superkapasitor het ’n hoër kragdensiteit as die gewone nikkelmetaalbattery wat in die Yaris-hibried ingespan word, en laai en ontlaai aansienlik vinniger. Dit maak dit pasreg vir die vereistes van baanrenne deur ’n kort, oomblikke vlaag krag los te laat.

Die hoeveelheid krag word bepaal deur hoe lank die energie wat vereis word, gelewer word.

As die Yaris R-hibried dus in gewone pad-modus is, stel die superkapasitor energie vir nie langer nie as tien sekondes per lading vry, en die algehele kraglewering van die twee elektriese motors word tot 30kW verminder. In “baanren”-modus haal die twee motors ’n gekombineerde maksimum-kraglewering van 89kW vir tot vyf sekondes per lading, wat die meer gereelde remwerk en versnelling in baanrenne weerspieël.

Gevorderde kloubeheer

’n Derde motor van 45kW word tussen die enjin en die 6-gang-handratkas aangetref. Dié motor dien as kragopwekker wanneer die motor rem om krag aan die superkapasitor te voorsien, en onder suiwer versnelling om krag na die elektriese motors vir die agterwiele te stuur.

Laasgenoemde gebeur net wanneer die enjin se krag en wringkrag die klouperke van die voorwiele oorskry. Die kragopwekker werk soos ’n gevorderde kloubeheerstelsel deur wringkrag as elektriese energie na die agterwiele te herlei ten einde versnelling te verhoog en hantering te verbeter eerder as om bloot verrigting te beperk.

Wringkrag-oordrag

Die agterste elektriese motors kan ’n groot invloed op die Yaris R-hibried se hantering in draaie hê deur die wringkragverdeling tussen die linker- en regterwiele te beheer.

Elke motor kan onafhanklik as kragopwekker of motor gebruik word om dieselfde uitwerking as ’n intelligente wringkrag-ewenaar te hê.

Die stelsel kan ingevolge die radius van die wringkragkurwe meer wringkrag na die buitekantste agterwiel stuur om ’n hoër indraaispoed in draaie wat gewoonlik middelmatige indraaispoed vereis, moontlik te maak. Die stelsel kan ook meer remverrigting na die binnewiel in vinniger draaie stuur, of selfs elke wiel in stadige draaie afsonderlik rem en versnel om die stertswaai-effek ten gunste van ’n beter renlyn deur die draai teen te werk en die stuurhoek en stuurtraagheid te beperk.

Posted on by jonckie

Comments Off on Yaris verhef blitsbuks tot heel nuwe groen vlak