PPS vertel lede van ‘n nuwe era ten opsigte van die aftree annuiteit

Ons het reeds op GeselsVersekering verwys na die voordele gebied deur PPS. Vir die professionele persoon is dit belangrik om bewus te wees en ag te slaan op die voordele wat sy PPS polis mag bied. Dit is dus ook om hierdie rede dat ons graag ‘n nuwe nuuus brief ook wil deel met ons besoekers aan hierdie blog.

“”n Verlangsamende VSA-ekonomie, die verlammende skuldkrisis wat deur groot dele van Europa versprei en bekommernis oor die volhoubaarheid van groei in die Chinese ekonomie het vanjaar aanleiding gegee tot groot omwentelinge in markte oral in die wêreld. Dit het egter ook die bewese waarde herbevestig van ‘n langtermynbeleggingsbenadering om korttermynmarkskommelinge met verloop van tyd die hoof te bied.

Nuwe afdeling binne die PPS Retirement Annuity

Dit was vir die Raad van Trustees aangenaam om gedurende 2010 ‘n nuwe afdeling binne die PPS Retirement Annuity die lig te laat sien as ‘n betekenisvolle verstewiging van u langtermynspaarmedium. Dié nuwe afdeling bied aan u die volle voordele van ‘n “nuwegenerasie”-uittree-annuïteit wat saamgestel is uit ‘n seleksie van onderliggende effektetrusts. Deur na die nuwe afdeling binne die Fonds self oor te skakel – ‘n unieke en eksklusiewe aanbod aan ons lede – word u in staat gestel om toegang te kry tot ‘n meer kostedoeltreffende, meer deursigtige en meer buigbare aftreespaarproduk. U is voorts in staat om dit te doen sonder om die stabiliteit prys te gee van die Fonds wat Suid-Afrikaanse beroepslui al vir meer as vyf dekades dien.

Dit blyk dat die aanbod baie gewild is en ‘n groot aantal van ons lede het die geleentheid benut. Ons verneem egter dat daar lede is wat die aanbod oorweeg het maar afgeskrik is deur die wetlik gesanksioneerde beëndigingsheffings wat deur Sanlam Lewensversekering by oorskakeling gehef word. Onthou asseblief dat dit die moeite werd is om dié heffings van tyd tot tyd te heroorweeg aangesien sulke heffings met verloop van tyd verlaag. Indien dit steeds nie vir u uitvoerbaar is om ‘n spesifieke polis te skuif nie, kan dit heel waarskynlik in u beste belang wees om ook daaraan oorweging te skenk om die ander polisse in u besit te skuif.

Belangrikheid van U Adviseur

Ons beveel aan dat sodanige oorwegings deel uitmaak van die jaarlikse finansiële hersiening wat u met u geakkrediteerde PPS tussenganger uitvoer. Ons beklemtoon ook die belangrikheid van dié akkreditasie aangesien slegs ‘n geakkrediteerde tussenganger die waarde van hierdie aanbod ten volle sal verstaan. Indien die advies aan u is om heeltemal uit die Fonds te skuif, beveel ons aan dat u u tussenganger se akkreditasie bevestig en ‘n tweede mening versoek. Onthou ook dat indien ‘n produk nie uitdruklik as “PPS” aangedui word nie, dit nie ‘n PPS produk is nie. Maak dus seker dat u nie omgepraat word om elders te belê op grond van die onjuiste aanname dat ‘n produk deel van die PPS pakket is nie.

Hou in gedagte dat onttrekking aan die PPS Retirement Annuity ‘n negatiewe uitwerking sal hê op u aandeel van die PPS Groep se bedryfswinste wat eksklusief aan die lede toegedeel word op grond van die beginsel van onderlingheid. As u as ‘n PPS lid verkies om u belegging te hou in die nuwe afdeling van die PPS Retirement Annuity, sal u oor die bykomende voordeel beskik dat ‘n hupstoot verleen word aan u PPS Surpluskortingsrekening waarna u deel van die Groep se winste oorgedra word.

Ons verwys u na ‘n aflaaibare brosjure vir verdere besonderhede oor die nuwe afdeling van die PPS Retirement Annuity. Klik hier om die PPS Retirement Annuity brosjure af te laai. U is ook welkom om u geakkrediteerde PPS tussenganger of PPS Lidkonsultant te kontak of in verbinding te tree met die PPS Retirement Annuity se Kliëntedienssentrum by 0861 777 723 (0861 PPS RAF) of info@ppsra.co.za. U kan ook ons webruimte besoek by www.ppsra.co.za

Posted on by jonckie

Comments Off on PPS vertel lede van ‘n nuwe era ten opsigte van die aftree annuiteit