Moet ons verwys na botsings of ongelukke?

Ek het gister die voorreg gehad om ‘n paar minute lugtyd te geniet in gesprek met Amore Bekker van Radio Sonder Grense. Dit is nou 8 jaar gelede dat ons begin het met die ontwikkeling van die Arrive Alive webstuiste en die die poging om groter bewustheid te skep oor padveiligheid. Die dodetal op Suid-Afrikaanse paaie is iets wat ons tot groot kommer wek – en dit is veral die geweldige hoeveelheid voorkombare ongelukke wat aangespreek moet word.

Wat is die vernaamste oorsake van ongelukke?

Die navorsers van ongelukstatistieke toon dat ons die oorsake soos volg kan verdeel:

Menslike faktore: 85%
Voertuig Faktore: 10%
Omgewingsfaktore: 5%

Dit is miskien ook nodig dat ons hierdie groepe bietjie nader omskryf:

Onder menslike faktore of foute sluit ons in die nie-nakoming van padreëls, oordeelsfoute , dronk bestuur, aan die slaap raak agter die stuurwiel ens.
Voertuigfaktore sluit in ‘n band wat bars, ‘n meganiese fout, voertuig wat aan die brand slaan ens.
Omgewingsfaktore is maar ‘n klein persentasie en sal wees waar vloedwater ‘n voertuig wegsleur, ‘n boom wat op ‘n voertuig val, rukwinde, diere wat voor voertuie inhardloop ens.

Botsings v Ongelukke

Wat is die definisie van ‘n ongeluk? ‘n Ongeluk kan gedefinieer word as ‘n skielike onvoorsiene gebeurtenis. Die “onvoorsienbaarheid” van die gebeurtenis is waarom so baie meen dat baie van hierdie botsings bloot na verwys moet word as botsings en nie as ongelukke nie. Daar is bloot te veel botsings wat plaasvind wat wel voorsienbaar kon wees…!!

Waarom meen ons hierdie botsings is voorsienbaar?

Die menslike foute waarna hierbo verwys word grens dikwels aan onverskilligheid en growwe nalatigheid. Onder hierdie ongelukke word ingesluit dronkbestuur, die nakoming van verkeersligte, onverskillige verbysteek op sperstrepe teen blinde hoogtes, oorlading van voeruie en die bestuur daarvan teen spoed wat glad nie veilig is in die spesifieke omstandighede nie…Ons kan ook hierby insluit die al groter wordende probleem van bestuurders wat hul met ander dinge ook besig hou soos die stuur van teksboodskappe ens. Net 2 weke gelede is 4 mense dood in ‘n ongeluk op die N2 waar ‘n trokbestuurder nie die stop-ry waarskuwings gesien het nie omdat hy besig was om te eet terwyl hy bestuur!

Indien iemand so grof nalatig is en die padreëls oortree – kan ons nog sê dat die botsing onvoorsienbaar was?!!

Dit is egter wel belangrik om daarop te let dat daar dikwels meer as een voertuig by ‘n botsing betrokke is. Vir die onverskillige oortreder mag dit ‘n botsing wees – maak vir die niksvermoedende en onskuldige motoris aan die ander kant mag dit wel ‘n skielike onvoorsiene gebeurtenis wees …en dus ‘n ongeluk.

Besoek gerus die Arrive Alive webstuiste vir meer inligting en wenke vir die pad hierdie feesseisoen. Intussen sal ek onderneem om met Amore en die luisteraars van RSG te praat oor botsings en wat gedoen kan word om hierdie onnodige lewensverlies en beserings te voorkom!

Posted on by jonckie

Comments Off on Moet ons verwys na botsings of ongelukke?