Toyota Gazoo Racing SA-renspan onderweg ma Suid-Amerika

Terwyl die meeste Suid-Afrikaanse gesinne Sondag Kersdag gevier het, het die Toyota Gazoo Racing SA-renspan hul reis na Suid-Amerika vir die 2017-Dakar-ren begin. Die ren begin op 2 Januarie 2017 in Asunción, die hoofstad van die Paraguay, maar die span het nog tonne werk om te doen voordat die vlag vir die wegspring val.

“Die twee Toyota Gazoo Racing SA Hilux-renvoertuie is aan die begin van Desember na ons vennote by Toyota Argentinië, net noord van Buenos Aires, verskeep. Die motors is egter gedeeltelik uitmekaar gehaal om verskeep te word en moet nou eers weer aanmekaar gesit en getoets word,” verduidelik die spanhoof, Glyn Hall.

Benewens die twee renvoertuie wat volledig voorberei moet word, moet die span ook die ondersteuningsvoertuie en vragmotors pak waarmee hulle die hele Dakar-roete met ondersteuningspersoneel en onderdele, gereedskap en die nodige infrastruktuur om die motors elke dag behoorlik in stand te hou, sal volg.

“Die Dakar-byeenkoms is ’n werklik massiewe onderneming,” sê Hall. “Ons onderdele-paklys behels meer as ’n duisend items wat elk in ’n katalogus aangeteken is om dit vir die logistiekbestuurder maklik te maak om enige onderdeel raak te vat wanneer dit benodig word.”

Sodra die renvoertuie volledig aanmekaar gesit en al die logistiek afgehandel is, sal die hele Toyota Gazoo Racing SA-renspan van Argentinië na Asunción in Paraguay vir die openingseremonie van die ren reis.

Toyota Gazoo Racing SA skryf twee renbeproefde Toyota Hilux-renmotors vir die 2017-Dakar-ren in. Motor #301 is vir die nuwelinge in die span, Nasser Al-Attiyah en sy navigator, Mathieu Baumel, terwyl motor #302 in die hande van die Toyota-staatmaker Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, sal wees. Al-Attiyah het die Dakar-ren al twee keer gewen terwyl De Villiers/Von Zitzewitz die eerste Suid-Amerikaanse weergawe in 2009 gewen het.

Die ren skop op 2 Januarie 2017 met ’n kort sneltrajek in Asunción, Paraguay, af. Sneltrajek 1 sal die spanne van Paraguay na die noordelike streke van Argentinië neem en dek ’n algehele sneltrajek-afstand van 454 km.

Die eerste oornag-tentkamp van die 2017-Dakar-ren is by Resistencia, waarna die roete van daar af deur Bolivië en terug tot in Argentinië kronkel voordat die ren op14 Januarie 2017 in die Argentynse hoofstad, Buenos Aires, eindig.
Toyota Gazoo Racing SA gee erkenning aan sy borge en amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:
Toyota geniet ’n wedersydse voordelige vennootskap met Red Bull, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste en SAA Cargo, sowel as Hallspeed, TFM, SKF, Spanjaard, Robor, OMP, NGK, Donaldson, Mastercraft, Edgecam, Supreme Springs, Shatterprufe, Smith’s Manufacturing, TRD, Curtis Mobile, Peritus Forex, 4×4 Mega World, First National Battery, SA Sport & Cargo en Overdrive Racing.

Volg die Toyota Gazoo Racing SA-renspan by www.toyota.co.za
Twitter: www.twitter.com/toyotasa
#toyotaSAracing
#gazooracingSA

Facebook: www.facebook.com/toyotasouthafrica.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Gazoo Racing SA-renspan onderweg ma Suid-Amerika

Category: Voertuig Tags :