Site icon GeselsVersekering

Poulter maak skitterbuiging op eerste dag in Dakar-Veldtydren

Poulter en Howie op Podium

Leeroy Poulter het Sondag die beste moontlike wegspring in sy eerste Dakar-veldtydren gehad toe hy en sy navigator, Rob Howie, wat in sy derde Dakar jaag, hul Toyota Imperial Hilux #323 in die negende plek oor die eindstreep gestuur het. Dit was die eerste dag van die 36e weergawe van die wêreld se langste en taaiste motorren deur Argentinië en Chile, wat 14 dae sal duur.

Hulle het in die 23e plek op die pad in die eerste van die veldtydren se 13 sneltrajekte van Rosario na San Luis in Argentinië weggespring. Hulle was die vinnigste van almal tot by die eerste beheerpunt van die sneltrajek oor 180 kilometer, wat tussen twee ooppadgedeeltes van 405 en 224 kilometer gelê het, maar het daarna effens tyd verloor toe hulle in die stof agter ’n paar stadiger motors was.

Hul spanmaats en die 2009-Dakar-wenners, Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz, het die openingsneltrajek ook suksesvol kafgedraf. Dié deel van die roete was knap en tegnies en baie soos dié van ’n Suid-Afrikaanse veldtydren. De Villiers-hulle was in die voorlopige uitslag 27e in hul #302-Hilux nadat hulle in die derde plek weggespring het.

Hulle is tot ’n beter vertoning gekniehalter weens kragstuurprobleme as gevolg van ’n lekkende koppeling in die hidrouliese domkragstelsel, wat dieselfde smeerstelsel gebruik. Hulle het heelwat tyd verloor toe hulle drie keer moes stilhou om die vloeistof aan te vul, en het uiteindelik die laaste 50 kilometer sonder kragstuur afgelê nadat hulle al die olie- en remvloeistof opgebruik het.

Die sneltrajek is deur Carlos Sousa en Miguel Ramalho van Portugal in ’n Haval in ’n tyd van 2 uur 20 minute en 36 sekondes gewen, met Orlando Terranova van Argentinië en Paulo Filiza van Portugal (MINI) 11 sekondes later, en Nasser Al-Attiyah van Qatar en Lucas Cruz van Spanje (MINI) ’n verdere 47 sekondes agter hulle. Poulter/Howie was 5 minute en 57 sekondes en De Villiers en sy Duitse navigator, Von Zitzewitz, 15 minute 57 sekondes agter.

Leeroy Poulter: “Ek was aan die begin baie senuweeagtig, maar die roete was baie soos dié waaraan ek gewoond is en ek is heel tevrede met ons spoed. Ons het eintlik nie eens geweet ons was iewers in die sneltrajek los voor nie, maar het vermoed ons het nogal goed gevaar toe ons sien ons word deur ’n helikopter gevolg. Die stof was baie erg en ons kon nie by van die stadiger motors voor ons op die pad verbykom nie, wat ons ons voordeel gekos het. Ons het geen probleme met die motor gehad nie en is baie in ons skik dat ons die dag onder die voorste tien afgesluit het.”

Giniel de Villiers: “Dit was die eergste moontlike sneltrajek om kragstuurprobleme te hê – baie knap en tegnies. Dit was bykans onmoontlik om die laaste 50 kilometer af te lê. Dit was nou nie die soort wegspring waarvoor ons gehoop het nie, maar dit is nog maar net die begin en ons sal een vir een op die dae voor ons fokus. Die motor is puik en ek is baie beïndruk met die nuwe enjin.”

Maandag se tweede sneltrajek oor 799 kilometer, wat van San Luis tot San Rafael strek en om 5:50 Argentynse tyd (10:50 SA tyd) begin, bestaan uit ’n ooppadgedeelte van 304 kilometer gevolg deur ’n rendeel van 43 kilometer en dan nog 62 kilometer op gewone paaie tot by die oornaghalte waar die eerste motors om 15:50 (20:50) verwag word.

Dit is die vinnigste sneltrajek van die byeenkoms – ten minste wat die begin betref – waar die deelnemers ook die eerste keer teen sandduine te staan sal kom. Die grys duine van Nihuil sal die jaers in die laaste 100 kilometer van ’n strawwe toets van hul tegniese vaardighede voorsien.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, 5Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

Exit mobile version