Site icon GeselsVersekering

Lexus by die Johannesburgse Internasionale Motorskou

 

Lexus het al sy modelle met kenmerkende lyne en stileringsveranderings hersien, waarvan die uurglasrooster en kenmerkende kop- en stertligte die opvallendste is. Hierdie ontwerpverbintenis word in die Lexus-tentoonstelling by vanjaar se Johannesburgse Internasionale Motorskou (JMS) weerspieël.

Die tentoonstelling is deur Lexus se ontwerpfilosfie aangespoor, en bied die volmaakte vertoonkas vir die nuwe voorkoms, weelde-element en tegnologie van Lexus-voertuie.

Die Lexus-tentoonstelling pronk met dramatiese eienskappe soos die ‘skatkis’-boks met spieëlhoogtepunte om die ikoniese LFA-supermotor ten toon te stel.

Soos Justin Ryan, Hoofbestuurder van Lexus Suid-Afrika, beklemtoon, gaan Lexus nog altyd daaroor om die fyn besonderhede te bemeester, hetsy dit in sy produkte is of hoe sy klante hanteer word. “Noudat ons ’n nuwe fase betree, kyk ons na elke detail hoe klante die Lexus-handelsnaam beskou om te verseker dat ons uit elke hoek ‘volmaak’ lyk,” sê Ryan.

Lexus ES 250

Die splinternuwe Lexus ES 250 vul met reg die ereplek by die JMS – ’n eenvoudige verhoog aan die voorkant van die uitstalling – ten einde sy status as topmodel by die skou aan te dui.

Die ES, waarvan die sesde geslag bemark word en wêreldwyd amptelik die topverkoper-Lexus-sedan is, sal ongeëwenaarde waarde in die weeldesegment van die Suid-Afrikaanse mark verteenwoordig wanneer die nuweling van vroeg aanstaande maand af hier te koop sal wees.

Lexus het nog altyd as die weeldevoertuig-filiaal van die voertuigreus Toyota daarin geslaag om bekostigbaarheid op doeltreffende wyse met vooraanstaande weelde, betroubaarheid en verrigting te kombineer – gevestigde reekse soos die IS, GS, CT en LS bied skitterende waarde vir geld in hul onderskeie passasiersmotorsegmente.

Die maatskappy is egter met die ES daarop uit om die intree-weeldemotorsegment te herdefinieer aangesien die ES op die gebied van prys teen R435 900 net onder die nuwe IS-reeks inval, maar wat sy kajuit betref, eerder die soort ruimte bied wat in die GS aangetref word.

Die ES sal die eerste keer in sy 24-jarige bestaan met die Lexus-hibriedaandrywing beskikbaar wees (vergelyk ‘Ook in ‘Groen’ beskikbaar’), terwyl die ES 250 aangedryf word deur ’n viersilinder-enjin van 2,5 liter met dubbele VVT-i-tegnologie wat die kleptydreëling van die in- en uitlaatnokke vir die beste moontlike verrigting en doeltreffendheid teen alle enjinsnelhede beheer.

Die ES 250 se verrigtingsyfers kom op 135 kW teen 6 000 r/min en 235 N.m se wringkrag teen 4 100 r/min te staan, terwyl die enjin aan ’n outomatiese 6-gang-transmissie gekoppel is. Die ES 250 sal in 9,8 sekondes van nul tot 100 km/h versnel en kan ’n topspoed van 207 km/h haal. Dié model se gekombineerde brandstofverbruiksyfer is 8,0 liter/100 km met 188 g/km se CO2-uitlaatgasse.

Die model pronk met ’n Drive Mode-draaiknop waarmee die bestuurder die ECO-, NORMAL-, of SPORT-verstellings vir die outomatiese transmissie kan kies. Die gewone (NORMAL) modus bied die beste mengsel tussen verrigting en brandstofdoeltreffendheid vir alledaagse motorry, terwyl die ekonomiese verstelling (ECO) meer ten gunste van brandstofekonomie is. Die Sport-modus verhoog die kragbron- en stuur-reaksie, wat die ES tesame met die stywer romp, breër wielspoor en opgekikkerde vering van prysenswaardige hanteringseienskappe voorsien.

Die ES se kajuit is veral baie ruim. Die jongste ES het ’n kleiner stuurhoek as die vorige weergawe (wat nié in Suid-Afrika beskikbaar is nie), wat die gevoel van beheer agter die stuur verbeter, terwyl die voorste sitplekke ten gunste van bykomende kopruimte nog 15 mm laer kan verstel. Kopruimte agter is 20 mm meer, terwyl die agterste knieruimte met ’n merkwaardige 60 mm vergroot is. Die bagasieruim kan 490 dm3 sluk.

Die eenvoud en statigheid van die binneruim vul die grasieuse L Finesse-begeesterde buitekant volmaak aan. Standaard-kenmerke sluit in die tweede-generasie afstand beheerde raakvlakstelsel met ’n volkleur-monitor van 8”, ’n satelliet-navigasiestelsel, leerbekleedsel met hoëgehalte-stikwerk regdeur, en stemmende beligting. Die ES deel ook baie eienskappe met die nuwe GS, soos sy wyserhorlosie en die Nano-e-klimaatstelsel.

Bykomende standaard-toerusting sluit in ’n glasdak, sleutellose toegang met ’n aansitterknop, elektries verstelbare sitplekke met sitplekverwarmers (met geheuewerking vir die bestuurdersitplek), ’n elektrochromatiese binne-truspieël, verhitte en verstelbare kantspieëls (met geheuewerking), trurat-monitor en parkeersensors voor en agter. Spoedbeheer, ’n kantel- en reikafstand-verstelbare stuurkolom, elektriese hortjies in die agtervenster, en ’n EMV-vertoonskerm vir die klankstelsel met agt luidsprekers en wat ’n radio, CD/DVD-speler, Bluetooth sowel as hulp- en USB-sokke insluit, is alles ook deel van die standaard-toerusting.

Daarbenewens bied die nuwe ES ook ’n magdom gevorderde passiewe en aktiewe veiligheidseienskappe, soos 10 lugsakke, baanwisselhulp met blindekol-monitor, voertuigstabiliteitsbeheer (VSC), ABS met EBD en Noodremhulp, en Isofix-ankers vir kindersitplekke. Die ES-modelle word deur ’n waarborg van vier jaar / 100 000 km en Lexus se instandhoudingspakket, Lexus Distance Plan Plus (ook vier jaar / 100 000 km) gedek.

Ook in ‘Groen’ beskikbaar

 

Die Lexus ES 300h is die eerste petrol-elektriese hibriedkragbron wat in die ES aangebied word. Dié model word aangedryf deur ’n viersilinder-enjin van 2,5 liter met enkele VVT-i-werking (118 kW teen 5 700 r/min met 213 Nm se wringkrag teen 4 500 r/min) wat aan ’n elektriese motor van 105 kW gekoppel is. Die elektriese motor word deur ’n nikkelmetaalhidried-battery van 650V aangedryf en lewer saam met die petrolenjin ’n gekombineerde 151 kW.

Die Lexus ES 300h het ’n palwissel-transmissie en kan in 8,5 sekondes van nul tot 100 km/h versnel, maar bied die soort brandstofverbruik (5,5L/100km) in die gekombineerde siklus wat gewoonlik met meer kompakte voertuie behaal word. Die ES 300h het ’n hibried-spesifieke sierrooster en drukvlerk agter.

Die ES 300h het ook die Drive Mode-draaiknop as deel van sy standaard-toerusting, maar ook ’n bykomende suiwer elektriese (EV) modus wat net in die hibried-weergawe beskikbaar is. Dié model het ook wegtrekhulp en ’n hersiene instrumentehuls met hibried-spesifieke instrumente.

Die toevoeging van batterye vir die ES 300h se elektriese motor maak effens inbreuk op die motor se bagasieruim, maar laat steeds oorgenoeg ruimte (die bagasieruimvermoë is 425 dm3 teenoor die 490 dm3 van die ES 250-model).

Vrae en antwoorde met Justin Ryan, Hoofbestuurder van Lexus Suid-Afrika:

Verduidelik hoe die ES in die Lexus-sedanmotorreks inpas?

“Die plaaslike bekendstelling van die ES volg regstreeks op klante se vraag na ’n meer toeganklike, waarde-geöriënteerde weeldeproduk uit die Lexus-stal, en ons is baie in ons skik met die feit dat ons nie een nie, maar twee weergawes bekom het en terselfdertyd ons portefeulje vir vernuwende hibriedvoertuie uitgebrei het (die ES 300h kan op aanvraag bestel word). Die nuwe ES val prysgewys net onder die IS-reeks, maar wat sy afmetings betref, bied hy eerder die soort ruimte wat in die GS aangetref word – beskou dit as die ruim en gemaklike alternatief vir die meer dinamies gefokusde IS- en GS-reekse. Die ES, wat deftig gestileer dog paslik onbeskaamd is, het ’n onderstel wat bevredigende ry-eienskappe en ’n ongelooflike soepel rit bied. Sy ongehoorde standaard-toerusting, vooraanstaande tegnologie en hoëgehalte-binneruim wat deurspek is van al die jongste weelde en deftighede, vul die hele pakket aan.

Verwag jy dat die nuweling enige van die bestaande podukaanbiedinge sal afrokkel? / Watter klante is julle van plan om te lok?

Ons verwag nie dat die ES eienaars van enige ander Lexus-modelle sal afrokkel nie, aangesien die ES in die smaak van ’n heeltemal ander teikenmark val. Ons skep daardeur op ’n sekere manier ’n nuwe nismark in die weeldemotor-segment deur kopers te lok wat ruimte en weelde eerder as suiwer dinamiese vermoë waardeer. Daarbenewens wil hulle alles – wat die immer belangrike Lexus-kenteken insluit – teen ’n prys hê wat bekostigbaar is. Die ES is dus vir mense wat die ruimte van ’n medium weeldesedan teen die prys van ’n kompakte weeldevoertuig wil hê.

Hoe sdal die ES hom van sy mededingers onderskei?

Om eerlik te wees – die ES is in ’n klas van sy eie. Ek weet dit klink asof ek ’n soort geheime besweringstaal gebruik, maar wat ruimte, toerusting, bekostigbaarheid en weelde betref, kom niks by hierdie Lexus nie.

Enige vooruitsigte om die reeks later uit te brei?

Ons sal aanhou om die Lexus-portefeulje te ontwikkel en uit te brei, wat toekomstige verrigtingsmodelle sal insluit, maar ons sal getrou aan die karakter van die handelsnaam, wat deel van ons strewe na volmaaktheid is, bly.

Ander modelle in die Lexus-uitstalling by die JMS:

 

 

 

Sy breër spoor, meer regstreekse stuur, gehoorontwikkelde uitlaatstelsel, outomatiese transmissie met wisselpedale en bykans oombliklike wissel-tegnologie, lugverkoelde skyfremme en ruim gebruik van aluminium, is ’n dinamiese omwenteling. Die GS bied in ware Lexus-styl ’n ongeëwenaarde lys standaard-toerusting. Die GS 350 het toerusting soos intelligente klimaatbeheer, Lexus Premium-klank, elektries verstelbare voorsitplekke en stuurwiel, sowel as hoëgraadse leerbekleedsel. Van November 2013 af kry die GS 350 ook ’n outomatiese 8-gang-Sport Direct Shift (SPDS) transmissie uit die Lexus IS F en is hierdie model as F SPORT beskikbaar, wat beteken dat dit onder meer palwissel vering en stuur en agterwiel-stuur as deel van die pakket bied.

Hierdie lys word in die GS 450h-modelle (wat volkleur-windskermweerkaatsing insluit) net nog langer. Hierdie hibried-model sal in SE-gewaad by die Lexus-tentoonstelling te sien wees. Die 450h, wat ’n soortgelyke V6-petrolenjin as die een in die GS 350 het, bied 345 Nm se wringkrag, en is vir ’n maksimum-kraglewering van 213 kW ingestel. Dit word verder deur ’n kragtige elektriese motor en hoëverrigtingsbattery aangevul, wat die algehele verrigting tot 252 kW verhoog. Die elektriese motor dra ook nog 275 Nm se wrinkrag vir indrukwekkende reaksie by. Die dryfstelsel is aan ’n E-CVT-palwisseltransmissie gekoppel.

 

 

Exit mobile version