Site icon GeselsVersekering

Eerste foto’s van Toyota se wilde eko-vegter, die Yaris R-hibried

Yaris Hybrid 2013

Toyota het ons verrigtingsverbeelding ’n paar dae gelede geprikkel met ’n paar tergfoto’s van die komende Yaris R-hibried-konsepmodel, wat sy wêreldbuiging by aanstaande week se Frankfurtse Motorskou sal maak. Hierdie super-blitsbuks is nou die heel eerste keer in sy volle ‘groen’ glorie te sien.

Net om jou te herinner: hier is ’n paar van die Yaris R-hibried-konsepmodel se meer opvallende verrigtingseienskappe (neem asseblief kennis dat Toyota van die verrigtingsyfers van die vorige persverklaring aangepas het):

Dié motor kan die petrolenjin se wringkrag teen lae snelhede of in ’n draai, wanneer die enjinkrag en wringkrag die klouperke van die voorwiele oorskry, in elektriese energie omskakel en dit na die agterwiele herlei. Die dubbele agterwielmotors kan hanteringseienskappe in draaie ook verbeter deur die wringkrag tussen die linker- en regter-agterwiele te verdeel, wat dieselfde uitwerking as ’n intelligente wringkragverdelende ewenaar het. Die stelsel kan na gelang van die radius van die draai meer wringkrag na die buitekantste agterwiel stuur, meer remkrag na die binnewiel stuur of elke wiel selfs onafhanklik laat rem of versnel, ten einde ’n beter renlyn te bewerkstellig en stuurtraagheid te beperk.

 

 

Onverskrokke sportiewe ontwerp

Om te sê die Yaris R-hibried lyk anders as sy stalmaats, is glad te min gesê. Hierdie drastiese konsep-model het nuutontwerpte kopligte, ’n breër sierrooster en swart en blou detail wat teen die wit kleur van die romp uitstaan.

Die voorste buffer het twee, groot luginlate en blou ligdiode-dagligryligte. Die inlate help om die voorremme koel te hou, terwyl die vorm van die onderste lip spesifiek ontwerp is om die lugvloei onder deur die romp te herlei.

Die uitgeboude wielnisse huisves doelgemaakte agtiensduim-TRD-wiele met 225/40 R18 Michelin Pilot Sport Cup-bande wat ’n assimetriese loopvlakontwerp het en vir gemengde gebruik op die pad en die renbaan ontwerp is.

Die remskywe, wat groefies en gaatjies het, werk met sessuier-remknypers voor en viersuier-remknypers agter. Die motor het ook ’n petrolhervuldop op die agterpilaar wat vinnig kan oopmaak om die tenk blitsig in die kuipe vol te maak. ’n Drukvlerk word aan die agterkant op die dak aangetref, terwyl die agterbuffer ’n groot verspreier het en die uitlaatpyp deur twee luguitlate omring word.

Die tweekleurige Recaro-skottelsitplekke het swart leer oor die systeunpunte en blou Alcantara® wat by die buite-kleurskema pas.

Die sekwensiële ratkas se ratkierie, wat gerieflik hoog en naby aan die bestuurder se regterhand gemonteer is, is ingestel om vinnig terug rat deur dit vorentoe te druk, en na hoër ratte oor te skakel deur dit agtertoe te trek. Die bestuursposisie word deur ’n stel kort pedale uit die Toyota 86-sportkoepee afgerond.

 

Verbintenis tussen die werklikheid en skynwerklike wêreld

Die Yaris R-hibried-konsepmodel gebruik dieselfde CAN-Gateway-enjinbeheerstelsel wat vir die 86-koepee en die sesde weergawe van die GranTurismo-speletjie, wat voor die einde van die jaar bekend gestel sal word, ontwerp is.

Dié stelsel maak dit vir die bestuurder van die 86 moontlik om reninligting op die baan op te neem en op ’n USB-stokkie of slimfoon te berg. GPS-inligting, versnelling, stuurhoeke, ratwisseling, enjinspoed, voertuigspoed en selfs watertemperatuur word ingespan om ’n werklike rondte op die baan op die videospeletjie-konsole oor te dra en dit met skynwerklike rondtes in die speletjie te vergelyk.

Die Yaris R-hibried-konsepmodel neem hierdie tegnologie ’n stappie verder deur dieselfde beginsel op omgekeerde wyse toe te pas. ’n Mens kan jou indink dat die inligting van die videospeletjie-rondtes na die voertuig se enjinbeheereenheid gestuur kan word. Die elektroniese beheer van die motor sal dan die rentoestande op elke renbaan vooruitloop ten einde die fases van energieherwinning, die werking van die kloubeheer en die hoeveelheid energie wat in elke stap gebruik word, te voorspel om hantering deur die agterste elektriese motors te vervolmaak.

Kernspesifikasies van TMG se wêreld-renenjin:

Enjin: 1 595cm3

Brandstoftoevoer: regstreekse inspuiting (tot 200 bar)

Lugtoevoer: turbo-aanjaer GTR2560R (maksimum druk: 2,5 bar)

Lugvloeibeperker: 33mm

Maksimum-kraglewering: meer as 224kW teen 6 000r/min

Maksimum-wringkrag: 420Nm

Maksimum-enjinsnelheid: 7 500r/min

Exit mobile version