Site icon GeselsVersekering

Land Cruiser 70-Reeks kry lang verwagte nuwe V8-turbodiesel

 

 

Die Land Cruiser 70-Reeks met sy nuwe enjin is nou die nuwe wringkrag-koning onder vierwielaangedrewe voertuie danksy Toyota se legendariese V8-turbodiesel-enjin van 4,5 liter met 32 kleppe, regstreekse hoëdrukbuis-dieselinspuiting en tussenverkoeler.

 

Drie Land Cruiser 70-Reeks-modelle – die 76-Stasiewa, die 79-enkelkajuit- en die 79-dubbelkajuit-bakkie – is die jongste modelle met hierdie V8-enjin van 151kW teen 3 400 r/min wat aan die Euro IV-uitlaatvereistes voldoen. Dié bielie van ’n enjin se wringkraghoogtepunt is 430Nm wat van net 1 200 r/min af regdeur die toerestrek tot by 3 200 r/min beskikbaar is – die platste wringkragkurwe van al Toyota se enjins. Die nuwe enjin pronk met 55 kW meer krag en 145 Nm meer wringkrag as die turbolose V6-dieselenjin van 4,3ℓ met gewone inspuiting wat steeds in sekere Land Cruiser-werkesels diens doen.

 

Hierdie enjin is aan ’n 5-gang-handratkas met ’n 2-gang-oordraratkas en deeltydse vierwielaandrywing met handverstelbare vryloopnawe gekoppel.
Iets waarop ’n mens moet let, is dat die V8-enjin se verbeterde verrigting nie sy brandstofekonomie in die wiele ry nie: brandstofverbruik is op 11,55 liter/100km* vasgestel.

 

Glenn Crompton, Vise-President van Bemarking by Toyota SA Motors, sê enigiemand wat ’n 70-Reeks-Land Cruiser koop, doen dit met ’n spesifieke behoefte, en dit is om in die veld te gaan ry. “Onvernietigbare bougehalte, uitdagende retro-stilering en nou ook V8-turbodiesel-aandrywing maak hierdie nuwe reeks ‘Cruisers selfs nog meer gebiedend. Dit is geen wonder dat ons reeds meer as 1 300 bestellings vir hierdie nuwe weergawe het nie.”

*Gekombineerde siklus


Land Cruiser-erfenis

 

Land Cruiser is een van die mees gerespekteerde handelsname in die wêreld van motorvoertuie, en dit kan regstreeks toegeskryf word aan sy ryk geskiedenis en die feit dat hy aanhoudend die pas in veldry-geledere aangee.

 

Die eerste Land Cruiser is in 1951 vervaardig toe die kleiner BJ sy buiging gemaak het, maar die Land Cruiser-kenteken het sedertdien op oopdak-weergawes, hardekappe, stasiewaens, sportnutse en natuurlik die reeks nuttige bakkies gepryk.

 

Die Land Cruiser het sy Suid-Afrikaanse buiging in 1971 met die koms van die FJ-45-bakkie gemaak, en het nog nooit teruggekyk nie. Die Land Cruiser-handelsnaam behels nou nie minder nie as vier uiteenlopende modelreekse waarvan elk sy eie, kenmerkende karakter het:

 

 

En soos Crompton dit stel: “Of jou voorkeur nou praktiese nuttigheid of iets meer genotsoekend is, is daar ’n Land Cruiser wat in al jou behoeftes sal voldoen. Die een ding wat elke liewe Land Cruiser-model egter gemeen het, is dat hulle almal die kroon as “koning van Afrika” met gesag kan dra.”

 

Die fyner besonderhede

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die reeks

 

Die V8 turbodiesel-reeks weerspieël dié van die ander petrol- en dieselmodelle in die 70-reeks. Al die turbodiesel-modelle kry kragstuur, kantel- en teleskopiese stuurkolom-verstelling, lugversorging, elektries beheerde vensters en deurspieëls, ’n bykomende 12V-kragsok sowel as afstand beheerde sentrale sluiting, om maar net ’n paar van die nuwighede op die lys standaard-toerusting te noem.

 

Die 76-Stasiewa is in pas met sy rol as mensedraer (vir tot vyf mense) die weelderigste toegerus, en pronk met binneruim-bykomstighede soos matte regdeur, ingeboude SatNav, ’n stereo-klankstelsel met ’n CD-speler en ’n USB-sok. Die 76, wat op estetiese gebied die mees verfynde model van die 70-Reeks-V8-drieling is, is opgetooi met kleurgepaste en verchroomde mondering (buffers, sierrooster, wielnisversierings), aluminium-kanttrappies en innemende 16”-allooisierwiele. Die nuwe Land Cruiser het ’n brandstoftenk van 130 liter terwyl hy in 2013-gewaad ook ’n spaarwielbedekking as deel van sy lang lys standaard-toerusting het.

 

Volgende op die numeriese lys in die reeks is die 79’s – met die eerstes in enkelkajuit-gewaad.

Kleurgepaste en chroom-buitebeslag, voorste misligte en kleurgepaste wielnisse onderskei hierdie model van sy stalmaats. Die 79-enkelkajuit pronk met ’n gekombineerde brandstoftenk-inhoudsvermoë van 180 liter.

 

Die jongste toevoeging tot die Land Cruiser-reeks – die 79-dubbelkajuit – word kosmeties gesproke deur die toevoeging van twee agterdeure van sy enkelkajuit-stalmaat onderskei. Hierdie model het nie wielnisversierings nie, en allooisierwiele kan bykomend bestel word. Aan die binnekant kry hy egter ’n ingeboude satelliet-navigasiestelsel (SatNav), ’n stereo-klankstelsel en ’n USB-sok by. Die dubbelkajuit-model het ’n brandstoftenk van 130 liter.

 

Pryse

 

Land Cruiser 76-stasiewa 4.5 V8 D                –           R587 500

Land Cruiser 79-enkelkajuit 4.5 V8 D             –           R527 000

Land Cruiser 79-dubbelkajuit 4.5 V8 D           –           R567 600

 

Al die nuwe Land Cruiser 70-Reeks-modelle word deur Toyota se omvattende waarborg van drie jaar/100 000 km gedek. Hierdie modelle word ook deur die ToyotaCare-padbystandsdiens gesteun, wat klante 24 uur se nood-padhulp bied om algehele gemoedsrus te verseker.

Besoek Ook:

Safe Driving on Gravel Roads

Exit mobile version