Vrystaat Landbou (VL) veroordeel ten sterkste die wrede doodmaak van 13 koeie en 5 kalwers op ‘n grensplaas in die Wepener-gebied op 23 Mei 2025. Francois Wilken, President van VL, het ‘n sterk beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gedoen om die skuldiges sonder versuim voor die gereg te bring.
Die naam van die boer en die betrokke plaas word weerhou, aangesien die boer ‘n huurder op die eiendom is. Benewens die diere wat doodgemaak is, is nog 11 koeie en 5 kalwers ernstig beseer gevind – gesteek met spiese wat later deur die boer en sy veewagters op die oewer van die Caledonrivier gevind is. Die beseerde diere het dringende behandeling benodig.
Die motief agter die verskriklike daad blyk vergelding te wees. Volgens Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, het sommige Basotho-burgers na bewering hul beeste oor die grens gejaag om onwettig op die grondeienaar se eiendom te wei. Hierdie beeste is daarna met die hulp van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANDF) geskut. Dit wil dus voorkom of die motief weerwraak was wat gerig was teen die huurder, wat totaal en al ongegrond is, meld le Roux.
Die SAPD ondersoek die saak aktief en volg leidrade op, maar pogings word belemmer deur vertragings in die verkryging van magtiging van Interpol om Lesotho binne te gaan. VL doen dus ‘n ernstige beroep op die regering om dringend hierdie burokratiese struikelblokke aan te spreek wat die vinnige hantering van oorgrensmisdade belemmer.
“Ons doen ‘n beroep op die SAPD om elke leidraad op te volg, te verseker dat alle toepaslike aanklagte by die saaklys gevoeg word, en ‘n sterk bewysstuk te bekom om te verseker dat die oortreders die volle mag van die wet in die gesig staar,” sê Wilken. “Hierdie saak moet ‘n presedent skep vir suksesvolle vervolging met streng vonnisse.
Die emosionele en finansiële tol op die betrokke boer is ernstig. “Dit is ‘n verwoestende ervaring vir enige boer om die wrede slagting van hul diere te aanskou – wat nog te sê van die massiewe finansiële verlies wat miljoene rande beloop,” voeg Wilken by.
VL doen weereens ‘n ernstige beroep op die Ministers van Polisie en Openbare Werke om ‘n 4×4 grenspad daar te stel sodat misdaad voorkomings aksies en die patrollering daarvan deur al die rolspelers kan plaasvind. “Boere en hul diere kan nie die teikens word en bly van kriminele wat vanuit Lesotho opereer en sulke wreedaardige dade uitoefen nie. Die regering moet optree-ons
grensgemeenskappe kan nie verlate bly nie,” sluit Wilken af.