Site icon GeselsVersekering

Imperial Toyota onthul Giniel De Villiers se nuwe Tydren-Vuurwa

Imperial Toyota het sy splinternuwe aanspraakmaker vir die Suid-Afrikaanse tydrenkampioenskap Donderdag-aand hier by ’n geselligheid in Nelspruit onthul. Dié nuwe Imperial Toyota Yaris, wat deur Toyota Motorsport gebou en voorberei is, sal Vrydag en Saterdag in die Sasol-tydren in die hande van Giniel de Villiers in aksie wees, terwyl Greg Godrich die roetenotas sal voorlees.

Die nuwe vierwielaangedrewe tweedeur-Yaris vervang die Imperial Toyota Auris waarin De Villiers van die middel van verlede jaar af saam met sy Toyota Motorsport-spanmaats Johnny Gemmell en Leeroy Poulter in die vooraanstaande S2000-klas deelneem. Gemmell en sy navigator, Carolyn Swan, en Poulter, met Elvene Coetzee langs hom, sal hierdie naweek die tweede keer vanjaar in hul nuwe Castrol-Toyota Yaris-tydrenmotors deelneem nadat dié jongste van ’n reeks uiters suksesvolle tydren-Toyotas hul buiging in Maart vanjaar in die Total-tydren in KwaZulu-Natal gemaak het.

“Ons is baie in ons skik met die feit dat ons Giniel en Greg in die jongste nuwe Toyota-tydrenmotor kan sit,” het Andrew Miller, die uitvoerende hoof van Imperial Toyota, gesê. “Giniel wapper die Imperial-vlag in hierdie opwindende en gewilde vorm van motorsport net so hoog as wat hy dit die afgelope twee jaar in die Dakar-veldtydren gedoen het. Ons wens hom en Greg alle sukses in hierdie naweek se Sasol-tydren en die res van vanjaar se reeks toe.”

Die tydren-Yaris is ’n nuutjie vir Suid-Afrika en Toyota Motorsport, wat in 2006 gehelp het om die baanbrekerswerk vir die bekendstelling van die S2000-klas in Suid-Afrika met die unieke Suid-Afrikaanse RunX-tydrenmotor, wat op die Corolla gegrond was, en sy opvolger, die 2008-Auris, te doen. Hierdie is die eerste Yaris wat enige plek ter wêreld aan ’n nasionale tydrenkampioenskapsreeks deelneem.

Exit mobile version