De Villiers/ Von Zitzewitz wen laaste sneltrajek en eindig 4de algeheel in Dakar 2014 / Poulter en Howie 33ste

Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz (Toyota Imperial Hilux) het Saterdag die 13e en laaste sneltrajek van die 2014-Dakar-veldtydren in Suid-Amerika gewen. Hulle is by die eindpunt in die Chileaanse hawestad Valparaiso in die vierde plek algeheel bevestig ná die marathon-ren deur Argentinië en Chile wat op 5 Januarie in Rosario begin en altesaam 9 500 kilometer behels het.

Die 2009-Dakar-kampioene het die T1.1-klas vir omgeboude petrolaangedrewe 4×4-veldrenvoertuie die derde jaar ná mekaar gewen nadat hulle in 2012 derde en in 2013 tweede in hul trots Suid-Afrikaanse Hilux 4×4’s was.

Hul spanmaats, Leeroy Poulter en Rob Howie, het hul oornagposisie van 36e verbeter deur die sneltrajek oor 157 kilometer tussen La Serena en Valparaiso in die 12e plek te voltooi. Hulle het Poulter se eerste Dakar-byeenkoms in ’n kredietwaardige 33e plek algeheel afgesluit.

Vier ander Hilux 4×4’s van Suid-Afrikaanse herkoms het onder die voorste 25 geëindig. Die Poolse jaers Marek Dabrowski en Jacek Czachor van die Belgiese Overdrive-span was sewende, hul makkers Adam Malysz en Rafal Marton was 13e, en Aidyn Rakhambayev en Vladimir Demyanenko van Kazakstan was 17..

Die Suid-Afrikaanse private jaers Thomas Rundle en Juan Mohr het ’n indrukwekkende 25e plek in hul eerste Dakar in die gewese De Villiers/Von Zitzewitz-Hilux wat in verlede jaar se ren tweede was, beklink.

Die Overdrive-Toyotas was tweede, derde en vyfde in die T1.1-klas terwyl Rundle en Poulter onderskeidelik agtste en 13e was.

Die Spaanse jaer Nani Roma en sy Franse navigator, Michel Perin (Mini) het die ren met 5 min 38 sek voor hul spanmaats, die verdedigende kampioene Stéphane Peterhansel en Jean Paul Cottret van Frankryk, en 56 min 52 sek voor die oudkampioene Nasser Al-Attiyah van Qatar en sy Spaanse navigator, Lucas Cruz, gewen. De Villiers en Von Zitzewitz was 1 uur 19 min en 7 sek agter die wenners en 8 min 37 sek voor die Argentynse jaer Orlando Terranova en sy Portugese navigator, Paulo  Fiuza (Mini).

“Dit voel altyd goed om dié ren te voltooi. Dit is die langste en moeilikste motorren ter wêreld, en vanjaar se weergawe was die moeilikste wat ons tot dusver nog in Suid-Amerika gehad het,” het De Villiers gesê.

“Dit is teleurstellend dat ons nie weer op die podium is nie, maar ons moet realisties wees. Ons het ons bes gedoen, maar kon net nie by die verrigting van die Mini’s bly nie – veral nie op die groot hoogtes bo seevlak waar dele van die roete ons geneem het nie. Ons het aan die begin te veel tyd met ons probleme met die hidrouliese stelsels verloor. Dit is in ’n ren wat só moeilik as vanjaar s’n was, onmoontlik om verlore tyd in te haal.

“Ek wil my span bedank vir die skitterende werk wat hulle gedoen het. Ons het weereens bewys dat die Hilux betroubaar is en sal terug in Suid-Afrika werk daarvan gaan maak om ons voertuig se verrigting nog verder te verbeter en aanstaande jaar beter doen. Ek wil ook Nani, Stéphane en Nasser geluk wens wat daarin geslaag het om hul posisies in die algehele uitslag te behou.”

Glyn Hall: “Ons moet onder die omstandighede baie tevrede wees met die feit dat al twee voertuie die eindpunt gehaal het, en dat Giniel en Dirk een van die voorste vier oor die wenstreep is. Hulle moet na die reëls kyk – ons is nie op gelyke voet wat verrigting betref nie aangesien ons die nouste lugbeperker van die voorjaers het. Dit was goed dat ons die laaste sneltrajek gewen het – dit was Giniel se 14e sneltrajek-oorwinning – en is ’n goeie manier om die ren in wat uiteindelik ’n baie uitdagende twee weke was, af te sluit. Leeroy het bewys dat hy die spoed het om ’n toekomstige aanspraakmaker te wees en hy sal groot munt slaan uit die ervaring wat hy in hierdie ren, wat die moeilikste was sedert die byeenkoms vyf jaar gelede van Afrika na Suid-Amerika verskuif het, opgedoen het.”

’n Gelukkige Poulter het by die eindpunt gesê hy is baie in sy noppies. “Om sneltrajek 3 in Argentinië te wen, was ’n hoogtepunt – net soos dit is om die Dakar in my eerste probeerslag te voltooi,” het hy gesê toe hy en Howie, wat in sy derde Dakar deelgeneem het, hulle voorberei het om tot by die seremoniële podium voor derduisende aanhangers in ’n feestelike atmosfeer by die Plaza Sotomayor te ry.

“Ons was net ’n paar nagte gelede nog in die woestyn gestrand terwyl ons op ons ondersteuningsvragmotor gewag het. Ons het gedink dit was neusie verby. Ons het eers twee-uur die oggend by die oornaghalte aangekom en moes sewe-uur weer vir die volgende sneltrajek gereed wees. Ons het sedertdien telkens ver agter weggespring en moes in die stof agter die stadiger motors en vragmotors aansukkel. Dit was ’n taai leerervaring, maar ek het nou ’n baie beter idee waaroor hierdie ren eintlik gaan en sal aanstaande jaar baie beter voorberei wees.”

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

 

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, 5Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on De Villiers/ Von Zitzewitz wen laaste sneltrajek en eindig 4de algeheel in Dakar 2014 / Poulter en Howie 33ste