De Villiers / Von Zitzewitz 4de algheel, Poulter/ Howie 33ste met nog net een Dakar-Sneltrajek oor

Giniel de Villiers van Suid-Afrika en sy Duitse navigator, Dirk on Zitzewitz (Toyota Imperial Hilux) is met nog net Saterdag se laaste sneltrajek oor 157 kilometer in die 2014-Dakar-veldtydren en 4 753 kilometer se sneltrajekte agter hulle in die vierde posisie algeheel nadat hulle Vrydag se voorlaaste sneltrajek oor 360 kilometer tussen El Salvador en La Serena in Chile in die vierde plek voltooi het.

Dit was ’n netjiese poging deur die 2009-kampioene om tot binne bereik van ’n derde agtereenvolgende podiumposisie in die wêreld se langste en moeilikste motorren te kom. Hulle jaag vir 14 dae deur Argentinië en Chile oor 13 sneltrajekte en het die Andes-bergreeks op ’n hoogte van 4 900 meter bo seevlak oorgesteek. Die ren het op 5 Januarie in Rosario begin en eindig Saterdag in Valparaiso.

De Villiers-hulle het een posisie in die algehele renvolgorde ingehaal nadat hulle Vrydag vyfde agter die Mini’s van Nani Roma (Spanje)/Michel Perin (Frankryk), die verdedigende kampioene Stéphane Peterhansel/Jean Paul Cottret (Frankryk), Nasser Al-Attiyah (Qatar)/Lucas Cruz (Spanje) en Orlando Terranova (Argentinië)/Paulo (Portugal) weggespring het.

Peterhansel/Cottret is die algehele voorlopers, met Roma/Perin net 26 sekondes agter hulle. Al-Attiyah/Cruz is derde en 54 min 07sek agter, met De Villiers/Von Zitzewitz 1 uur 21 min 13 sek agter die voorlopers. De Villiers-hulle is 6 min 44 sek voor Terranova/Fiuza.

Peterhansel/Cottret het Vrydag se sneltrajek voor Al-Attiyah/Cruz en Roma/Perin gewen, en die algehele voortou by hul spanmaats Roma/Perin oorgeneem, wat hulle in ’n posisie plaas om hul derde agtereenvolgende Dakar-ren te wen. Terranova/Fiuza het navigasieprobleme naby die einde van die sneltrajek in die sandduine gehad en negende geëindig, wat die Suid-Afrikaanse Toyota Imperial Hilux-jaers, wat ’n skoon lopie gehad het, bevoordeel het.

Hoewel die laaste sneltrajek relatief kort is – die kortste in vanjaar se byeenkoms – en beskou word as ’n seremoniële lopie tot by die eindpunt met min kans dat die renvolgorde aan die voorpunt sal verander, is dit nie vanjaar die geval nie.

“Dis nog nie verby nie,” het De Villiers gesê. “Saterdag se sneltrajek is baie kronkelrig en uiters tegnies. Dit gaan nie kinderspeletjies wees nie. Enigiets kan gebeur, net soos vandag toe Terranova soveel tyd in die duine verloor het.

“Ons was vandag daarop uit om ’n skoon lopie te hê, en dit is wat ons reggekry het. Ons het probeer om by die Mini’s te bly, maar dit was net nie moontlik nie.

“Ons het so drie of vier minute aan die begin verloor toe die skokbrekers styf geword het,” het De Villiers gesê.

“Ons het ons vandag goed van ons taak in die duine gekwyt, wat gehelp het om ons algehele posisie te verbeter,” het Von Zitzewitz bygevoeg. “Ons sal Saterdag ’n bietjie geluk nodig hê om die podium te haal, maar ’n mens weet nooit wat nog kan gebeur nie.”

Hul spanmaats Leeroy Poulter en Rob Howie het met mannemoed en vasberadenheid vorendag gekom en die hoogte- en laagtepunte van Poulter se eerste Dakar-poging beleef het. Dit was alles van hul eerste podiumposisie in sneltrajek 3, tot ure se gewag op hul ondersteuningsvragmotor wat hulle tot agter in die renveld laat terugsak het.

Hulle het die afgelope vier dae heldhaftig teruggeveg en vir die laaste sneltrajek tot die 33e posisie opgeskuif nadat hulle Vrydag se sneltrajek in die 23e posisie voltooi het. “Dit was ’n ontnugterende ervaring,” het Howie, wat aan sy derde Dakar-ren deelneem, gesê. “Baie dinge gebeur wanneer ’n mens so ver agter wegspring. Ons het ons koppe laag gehou en net daarop gefokus om ons agterstand stukkie vir stukkie te verklein. Ons probeer om uit die moeilikheid te bly, so veel plekke as moontlik op te maak en die eindpunt in een stuk te haal.”

Die Suid-Afrikaanse private Toyota-jaers Thomas Rundle en Juan Mohr, wat in die gewese Toyota Motorsport-Hilux jaag, het die voorlaaste sneltrajek net 31 sekondes agter Poulter en Howie in die 24e plek voltooi en sal die laaste sneltrajek in ’n baie kredietwaardige 26e posisie algeheel aandurf.

Saterdag se 13e en laaste sneltrajek van La Serena na Valparaiso bied die oorblywende deelnemers die trots en genot om die Dakar te kon voltooi – ’n kordaatstuk in eie reg. Deursettingsvermoë is selfs só naby aan die eindpunt iets waaruit ’n ieder en ’n elk krag put. Die byeenkoms eindig die eerste keer in die geskiedenis met ’n podiumgeselligheid in die donker, waar die suksesvolle deelnemers aan die derduisende toeskouers en miljoene televisiekylers regoor die wêreld bekend gestel sal word.

Die eerste motor spring om 08:54 (13:54 Suid-Afrikaanse tyd) op ’n ooppadgedeelte van 22 kilometer na die wegspringpunt van die laaste sneltrajek oor 157 kilometer weg, waarna die deelnemers ’n laaste ooppadgedeelte van 256 kilometer tot by die eindpunt in Valparaiso sal aflê, waar die eerste motor om 17:00 (22:00 SA tyd) verwag word.

 

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

 

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, 5Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

Posted on by jonckie

Comments Off on De Villiers / Von Zitzewitz 4de algheel, Poulter/ Howie 33ste met nog net een Dakar-Sneltrajek oor