Bridgestone onthul nuwe Ecopia EP200

20131025-084319.jpg

Johannesburg (25 Oktober 2013)

Bridgestone Suid-Afrika het die koms van die Ecopia EP200, wat die vorige geslag Ecopia EP100A vervang, aangekondig. Die nuwe band pronk met Bridgestone se gepatenteerde Nano ProTech-tegnologie, ’n nuwe tegnologie wat die densiteit van die silika-molekules in die band se rubbersamestelling verhoog. Nano ProTech laat minder hitte opbou en verminder energie-verlies in die ry, wat tot laer rolweerstand lei.

“Die Ecopia EP200 se rolweerstand was in toetse wat by die Gerotek-toetsterrein in Pretoria gedoen is, 78 meter beter as dié van sy grootste mededinger,” het Bridgestone se promosiebestuurder, Jan Maritz, gesê. “’n 195/65R15-Ecopia het in dieselfde toets 4,3% minder brandstofverbruik as sy eweknie van ’n ander fabrikaat aangeteken.

Bridgestone sê hierdie voordele is verkry sonder om slytasie of padhouvermoë in te boet, en die Ecopia EP200 beskik ook oor talle ander voordele wat die bestuurder beter beheer in alle rytoestande gee. Een daarvan is die harder skouer-loopvlakblokkies wat ’n vierkantige profiel teenoor die meer geronde profiel van gewone bande het. Dit verbeter rigtingsgewyse stabiliteit terwyl dit ook rolweerstand verminder. Bridgestone sê dié meer hoekige profiel-skouers bied ook beter weerstand teen buitengewone slytasie.

Dit loopvlakblokkies in die middel is soos ’n omgekeerde Z gevorm, wat ’n meer bestendige aanraking met die padoppervlak bied. Die blokkies het ook ’n groot, skuins groef wat beter padhouvermoë in nat toestande bied. Die omgekeerde Z-patroon het Bridgestone se ontwerpers in staat gestel om die drie reguit groewe in die loopvlak breër te maak, wat die gevaar van watergly op nat paaie aansienlik verminder.

Die Ecopia EP200 is ’n asimmetriese band wat verfyn is om stabiliteit in ’n reguit lyn te verhoog deur impakke weens ongelyke padoppervlakke te absorbeer. Die wande het ’n unieke vorm aan elke kant van die band, wat beteken dat die Ecopia EP200 net soos in die geval van ander asimmetriese bande só gemonteer moet word dat die merke aan die “buitekant” van die wande altyd weg van die voertuig af wys.

Bridgestone sê die band is op passasiersmotors aan die bokant van die B- en C-segmente gemik, wat gewoonlik voertuie soos die Ford Fiesta en Focus, Toyota Corolla, VW Golf ern Mercedes-Benz C-Klas insluit. Die Ecopia EP200 dek die meeste algemene brandgroottes vir hierdie voertuie, soos van 175/65R14 tot 225/50R17.

Die nuwe Ecopia word ook deur Bridgestone se bandskadewaarborg gedek, waar die motoreienaar net vir die loopvlak wat al gebruik is, betaal wanneer die band onherstelbaar beskadig is en vervang moet word.
“Die Ecopia EP200 is vir die bestuurder wat ’n band wil hê wat beter brandstofverbruik bied en dus minder uitlaatgasse veroorsaak, maar sonder om enigiets op die gebied van ritgemak en padhouvermoë prys te gee,” het Maritz gesê. “Die Ecopia EP200 bou op die reputasie van die vorige Ecopia voort as die beste eko-vriendelike band wat in Suid-Afrika beskikbaar is,” het hy afgesluit.

Posted on by jonckie

Comments Off on Bridgestone onthul nuwe Ecopia EP200

Category: Algemeen