Bestuurder vat hasepad na ongeluk buite Oudtshoorn

Vier insittendes van ‘n silwer BMW is vanmiddag net na 14:00 op die toneel van ‘n botsing buite Oudtshoorn ondervra om te bepaal wie die bestuurder van die motor was.

Volgens hulle het die bestuurder die hasepad gekies en is hy glo nie aan hulle bekend nie.

Die BMW was vanaf Knysna na Oudtshoorn onderweg toe dit die pad op die draai voor die Bakenskraal-afrit aan die kant van aankomende verkeer verlaat het.

Dit het ‘n donga getref, omgeswaai en met die agterkant ‘n padteken afgery voordat dit tot stilstand gekom het.

Alhoewel daar heelwat bloed in die omgewing van die bestuurder se sitplek is, het die een persoon wat vir snywonde behandel is, gesê hy was ‘n passasier.

Die motor se nommerplate en die lisensieskyf was nie aan die motor nie. Die polisie het met die VIN-nommer bevestig dat die motor in Knysna geregistreer is.

Geen verdere inligting is tans beskikbaar nie.

[Oudtshoorn Courant]

Posted on by jonckie

Comments Off on Bestuurder vat hasepad na ongeluk buite Oudtshoorn