Ongeluk buite Oudtshoorn volstruisplaas na toeriste U-draai maak

In die vierde botsing in die Oudtshoorn-omgewing dié naweek is ‘n vrou hospitaal toe geneem vir waarneming nadat sy van borspyn gekla het.

Die vrou en haar man was gistermiddag, Sondag 12 Maart, omstreeks 15:00 vanaf Oudtshoorn na George onderweg nadat hulle by hulle kinders gekuier het, toe hulle in die botsing by die ingang van Chandelier-wildsplaas betrokke was.

Hulle Nissan-bakkie het ‘n Kia Picanto getref wat voor Chandelier ‘n U-draai gemaak het.

Die insittendes van die Kia was twee toeriste uit Indië en hulle tweejarige kind. Hulle is nie beseer nie. Volgens die bestuurder van die Kia het hy net verby die ingang van Chandelier stilgehou en wou omdraai om by die hek in te ry.

Hy het egter nie die aankomende bakkie gesien nie.

Die eienaar van Chandelier probeer reeds die afgelope vyf jaar tevergeefs om owerhede sover te kry om die pad voor Chandelier breer te maak aangesien daar reeds verskeie botsings plaasgevind het.

Nog toeriste, ‘n gesin van vier uit Duitsland, was Vrydagmiddag in ‘n botsing by die Perdeskoendraai betrokke toe hulle deur ‘n motor getref is wat hulle verbygesteek het. Niemand is beseer nie.

Lees meer in Donderdag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.

[Oudtshoorn Courant]

Posted on by jonckie

Comments Off on Ongeluk buite Oudtshoorn volstruisplaas na toeriste U-draai maak

Category: Veiligheid, Voertuig, Voertuig Tags :