Toyota Gazoo Racing SA oorgehaal vir eerste sneltrajek van Dakar 2017

ASUNCIÓN, PARAGUAY – Vir die meeste mense is die eerste dag van die nuwe jaar tradisioneel ’n rusdag, maar die Toyota Gazoo Racing SA-renspan het Sondag 1 Januarie hul laaste renvoorbereiding vir die 2017-Dakar afgehandel, wat die seremoniële podiumgeselligheid in Asunción ingesluit het.

Die seremoniële wegspring was ’n uithang-geselligheid waar elk van die deelnemers oor die wegspringverhoog gery en ’n omroeper hul name en land van herkoms afgelees het. Dié deel van die wegspring is soos altyd deur duisende Dakar-aanhangers bygewoon, en die twee Toyota Gazoo Racing SA-Hilux-renvoertuie het hul beurt om 20:30 gehad.

“Dit is alles deel van die opbou na die wegspring,” het die Toyota-staatmaker Giniel de Villiers (#302) gesê nadat hy die podium oorgesteek het. “Volgende aan die beurt is die ongenaakbare Dakar self. Hoewel Sneltrajek 1 ’n kort sneltrajek is, is dit ’n feit dat ons nou die punt bereik het waar al wat nog gedoen moet word, die ren self is.”

De Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, was die derde motor oor die wegspringverhoog met hul spanmaats Nasser Al-Attiyah en Mathieu Baumel (#301) wat twee minute voor hulle was. Al twee spanne sien saam met die glans wat die wegspringseremonie tot die 2017-Dakar-ren gevoeg het, baie daarna uit om die openingsneltrajek agter die rug te kry.

“Dit is net ’n kort sneltrajek vir more,” het Al-Attiyah in Asunción gesê. “Elke kilometer is nogtans uiters belangrik in hierdie ren, en ons neem Sneltrajek 1 dienooreenkomstig baie ernstig op.”

Die eerste sneltrajek dek ’n algehele afstand van 454 km, hoewel net 39 km daarvan as rensneltrajek beslis sal word. Die oorblywende 415 km bestaan uit die ooppadgedeeltes wat die deelnemers aanvanklik na die begin van die sneltrajek, en daarna tot by die oornagtentkamp by Resistencia in die noorde van Argentinië neem.

“Dit is dalk ’n relatiewe rustige bekendstelling tot die ren,” het die spanhoof, Glyn Hall, ná die openingsgeselligheid gesê, “maar moenie dat dit jou mislei nie. Die deelnemers spring in Sneltrajek 2 in die posisie weg waarin hulle die openingsneltrajek voltooi het, en sal dus nie te ver teen die rangorde wil terugskuif nie. Dit is nie juis belangrik om die openingsneltrajek te wen nie, maar dit is baie belangrik om ’n goeie wegspringposisie vir Sneltrajek2 aan te teken.”

Sneltrajek 1 begin om 11:03 plaaslike tyd (vyf ure agter Suid-Afrikaanse tyd), maar die eerste jaers word eers omstreeks 16:30 by die oornagtentkamp verwag. Tussen-in lê die opwindende openingsneltrajek sowel as die grenspos van Paraguay, wat vanjaar die eerste keer die gasheer vir die Dakar-veldtydren is, na meer bekende Dakar-terrein in Argentinië.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Gazoo Racing SA oorgehaal vir eerste sneltrajek van Dakar 2017

Category: Veiligheid, Voertuig Tags :