Toyota Gazoo Racing SA behou posisie in voorlaaste sneltrajek van Dakar 2017

RÍO CUARTO, ARGENTINIË – Sneltrajek 11 van die 2017-Dakar was nog ’n lang, warm geswoeg vir die renjaers wat aan die wêreld se moeilikste motorren deelneem. Vir Toyota Gazoo Racing SA was dit egter ook ’n benoude voorlaaste sneltrajek in die byeenkoms waartydens Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, hul algehele posisie ten spyte van ’n sterk aanslag deur die MINI-jaer Orland Terranova behou het.

De Villiers/Von Zitzewitz (#302) het die sneltrajek met ’n voorsprong van 02:27 teenoor Terranova begin en was vyfde algeheel.

“Ons het vanoggend ’n groot aanslag van Terranova verwag,” het die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, ná die sneltrajek by die tentkamp in Río Cuarto gesê. “Ons het die Toyota Hilux dus van elke denkbare bykomende komponent wat ons kon, gestroop om so veel as moontlik onnodige gewig af te skud. Dit het op die ou einde gewis vrugte afgewerp, aangesien ons later gehoor het Terranova het presies dieselfde gedoen. Ons het eintlik ’n bietjie van ’n kans gewaag, maar dit het gewys hoe straf die mededinging selfs so laat in die ren nog is.”
Die Toyota Gazoo Racing SA-renspan het die eerste deel van die voorlaaste sneltrajek oor ’n afstand van 292 km verwoed begin en hul voorsprong met 90 sekondes vergroot totdat ’n pap wiel nie net hul vordering onderbreek het nie, maar Terranova die geleentheid gegee het om die gaping te verklein. Die Argentynse jaer, wat dié deel van sy tuisland goed ken, het die beste daarvan gemaak en so hard gejaag as wat hy kon.

“Maar toe kom ons ná ’n lang ooppadgedeelte by die tweede deel van die sneltrajek,” onthou De Villiers. “Ons het nogal hard gejaag en op die ou einde net 23 sekondes teenoor die MINI-jaer afgestaan. Ons is steeds sowat twee minute voor Terranova, en aangesien die laaste sneltrajek net 64 km behels, behoort ons ons algehele posisie te behou.”

Intussen is Nani Roma en sy navigator, Alex Bravo (#305), ná Sneltrajek 11 steeds die voorste Toyota Hilux-span ten spyte van die feit dat hulle sowat 15 minute afgestaan het.

“Ons het vandag egter ’n skoon lopie gehad,” het dié gewilde Spanjaard by die oornaghalte in Río Cuarto gesê. “Ek was in die eerste gedeelte nogal versigtig en het die meeste van my tyd daar verloor. Ek is nogtans doodtevrede met ons posisie en sien baie uit na die eindpunt in Buenos Aires.”

Roma/Bravo het hul vierde posisie algeheel behou, en met nog net die kort eindsneltrajek oor, lyk dit asof hulle as beste Toyota-span in die 2017-Dakar sal eindig. Sneltrajek 12 word naby Río Cuarto beslis, en word gevolg deur ’n ooppadgedeelte van 722 km wat die suksesvolle deelnemers tot by die wenverhoog in Buenos Aires sal neem.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Gazoo Racing SA behou posisie in voorlaaste sneltrajek van Dakar 2017