Teleurstelling vir Toyota Gazoo Racing SA tydens 3rde Snetrajek van Dakar 2017

SAN SALVADOR DE JUJUY, ARGENTINIË – Sneltrajek 3, wat as opwindende wipplankstryd tussen die voormalige Dakar-wenners Nasser Al-Attiyah (Toyota Gazoo Racing SA) en Stephane Peterhansel (Peugeot) begin en ’n kop-aan-kop-stryd in die sneltrajek oor 364 km geword het, het in teleurstelling vir Toyota Gazoo Racing SA geëindig toe Al-Attiyah die vering van sy Toyota Hilux beskadig het.

Al-Attiyah en sy navigator, Mathieu Baumel, was aanvanklik agter Peterhansel, maar het die krane oopgedraai en ’n voorsprong van bykans drie minute opgebou. Dit het hulle die algehele voorjaers in die ren gemaak, en hulle was duidelik op koers om ’n tweede sneltrajekoorwinning in vanjaar se byeenkoms los te jaag.

Ongelukkig het hul skouspelagtige aanslag tot ’n skielike einde gekom toe hulle die regter-agterwiel van hul voertuig in ’n diep gat tussen GPS-punte sewe en agt afgeruk het.

“Dit was ’n fantastiese sneltrajek vir ons,” het Al-Attiyah by die oornag-tentkamp in San Salvador de Jujuy gesê. “Dit was reg tot op die punt dat ons die motor beskadig het. Ons het die stryd teen Peterhansel tot op daardie punt geniet en was baie in ons skik toe ons sien dat ons die pas in die middelste gedeelte van die ren aangegee het. Op die ou einde was die uitslag ’n groot teleurstelling, maar die motor het so goed soos altyd gejaag en ons sien daarna uit om nog sneltrajekte te wen namate die ren vorder.”

Hul spanmaats, Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz, het ook tyd in Woensdag 4 Januarie se sneltrajek verloor, maar hul terugslag is tot 36 minute beperk teenoor die twee ure wat Al-Attiyah/Baumel verloor het.

“Ons het aanvanklik tyd weens navigasie verloor, maar toe ons weer op die regte roete beland, kon ons ons posisie behou,” het dié jaer van Stellenbosch ná die sneltrajek gesê. “Ons het ongelukkig naby die einde van die sneltrajek ’n probleem met die brandstofdruk gehad en nog tyd verloor om deur dit te werk, maar daarin geslaag om weer aan die gang te kom en die sneltrajek te voltooi.”

Nani Roma het die beste tyd in ’n Toyota Hilux in die sneltrajek aangeteken wat uiteindelik deur Peterhansel gewen is. Roma het die sneltrajek in die agtste plek voltooi en was 13:16 agter die wenner.

Volgende is Sneltrajek 4, wat die deelnemers uit Argentinië vir vyf dae se sneltrajekte deur Bolivië sowel as die rusdag in La Paz neem. Die sneltrajek self begin in Argentinië en steek dan die grens na Bolivië oor, en pronk met ’n algehele afstand van 521 km. Die roete hou aan styg tot die hoë vlaktes in Bolivië en bereik ’n hoogste punt van 4 000 m bo seevlak.

Posted on by jonckie

Comments Off on Teleurstelling vir Toyota Gazoo Racing SA tydens 3rde Snetrajek van Dakar 2017