Stewige vertoning deur Toyota Gazoo Racing SA in sneltrajek 2 van Dakar 2017

SAN MIGUEL DE TUCUMÁN, ARGENTINIË – Sneltrajek 2 van die 2017-Dakar het tot nog ’n puik vertoning deur die Toyota Gazoo Racing SA-renspan gelei toe Nasser Al-Attiyah en sy navigator, Mathieu Baumel (#301), die tweede vinnigste rentyd van die dag losgejaag het. Hul spanmaats, Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz (#302), was vierde vinnigste en is op die oomblik vierde algeheel – 02:05 agter die nuwe algehele voorloper, Sebastien Loeb (Peugeot).

Die sneltrajek oor 275 km is voorafgegaan deur ’n ooppadgedeelte van 444 km, wat die deelnemers van die Argentynse dorp Resistencia na San Miguel de Tucumán geneem het. Die sneltrajek self het gemengde oppervlakke behels, en was gemiddeld net 200 m bo seevlak.

Al-Attiyah/Baumel, wat die 2017-Dakar se eerste sneltrajek op 2 Januarie gewen het, het regdeur die sneltrajek hard gejaag, maar hul voorsprong aan Loeb in sy Peugeot afgestaan. Die Toyota Gazoo Racing SA-voorjaer is net 28 sekondes agter die nuwe voorjaer ten spyte van die feit dat die Fransman Sneltrajek 2 met ’n gaping van 01:23 gewen het.
“Ons het probeer druk waar ons kon,” het Al-Attiyah gesê nadat hulle by die oornagtentkamp in San Miguel de Tucumán aangekom het. “Die goeie nuus is dat ons Toyota Hilux vandag sonder probleme gery het, wat ’n groot verligting ná gister se skrik was.”

Al-Attiyah/Baumel se renvoertuig het aan die einde van Sneltrajek 1 ’n kleinerige enjinbrand opgedoen, wat net soveel rede tot kommer was as wat hul oorwinning in die openingsneltrajek was om te vier. Die tegniese span het tot laatnag gewerk om seker te maak die Toyota Hilux is in perfekte toestand vir Sneltrajek 2, en hul moeite het duidelik vrugte afgewerp.

De Villiers/Von Zitzewitz is vol vertroue nadat hulle die vyfde vinnigste tyd in Sneltrajek 1 aangeteken het. Dit het hulle ’n goeie wegspringposisie vir Sneltrajek 2 gebied, en hulle was tevrede met die vierde vinnigste tyd van die dag wat hulle ook tot vierde algeheel in die algehele stand opgeskuif het – 01:32 agter hul spanmaats, Al-Attiyah en Baumel.

“Dit was ’n goeie sneltrajek vir ons en die motor het absoluut perfek gevoel,” het De Villiers by die eindpunt gesê. “Ons het die sneltrajek net een sekonde stadiger as Carlos Sainz (Peugeot) afgelê, wat duidelik bewys het hoe goed die 2017-Toyota Hilux werklik is.”

Die openingsneltrajekte het Glyn Hall, die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, gemengde emosies gebied: “Ons was so in ons skik met ons oorwinning in die openingsneltrajek, net om deur Nasser se enjinbrand gepootjie te word. Ons het dit egter gou oorkom en die motor vir Sneltrajek 2 herstel, waarna ons jaers twee stewige vertonings opgestel het. Daarbenewens lyk dit asof Sneltrajek 2 meer geskik vir die duinebesies was: dit was gelyk, met lang reguit dele en baie klouvermoë – alles elemente wat goed vir hulle gewerk het. Dit is verder deur die ongewone hoë gemiddelde spoed van sowat 120 km/h aangevul.”

Volgende is die klim tot groter hoogtes aangesien Sneltrajek 3 die deelnemers van die oornagtentkamp by San Miguel de Tucumán tot by San Salvador de Jujuy op ’n hoogte van 5 000 m naby die einde van die sneltrajek neem. Die algehele afstand vir die dag beloop 512 km, wat die sneltrajek van 416 km insluit. Die sneltrajek neem die jaers na die eerste hoë duine wat ’n groot uitdaging vir die jaers en hul navigators bied.

Dit sal die laaste sneltrajek in Argentinië wees voordat die Dakar die grens na Bolivië vir nog vyf sneltrajekte teen groot hoogtes bo seevlak en die rusdag by La Paz oorsteek.

Posted on by jonckie

Comments Off on Stewige vertoning deur Toyota Gazoo Racing SA in sneltrajek 2 van Dakar 2017

Category: Veiligheid, Voertuig Tags :