Sterk vertoning deur De Villers en Von Zitzewitz in Sneltrajek 7 van Dakar 2017

UYUNI, BOLIVIË – Die 2017-weergawe van die wêreld se strafste motorren, wat deur talle die ergste Dakar-ren in jare genoem word, het met ’n string uitdagings vorendag gekom. Die uiterste weerstoestande in die noorde van Bolivië het die organiseerders genoop om Sneltrajek 6 af te stel, en Sneltrajek 7 – die marathon-skof – is tot net 161 km ingekort. Dit was egter ’n puik 161 km vir die Toyota Gazoo Racing SA-jaer Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz.

Dié twee het die dag in die agtste plek algeheel weggetrek ‒ meer as ’n uur agter die voorjaer, die Peugeot-jaer Stephane Peterhansel. Dit was dus duidelik dat hulle diep sou moes delf om enigsins tyd in te haal, maar Sneltrajek 7 het ’n dubbele uitdaging gebied: eerstens is dit ook weens die oorstromings op die roete verkort, wat die nog moeiliker gemaak het om tyd in te haal, en tweedens het dit steeds as die sogenaamde marathon-sneltrajek gedien.

Marathon-sneltrajekte is uniek in die sin dat die tegniese ondersteuningspanne nie toegelaat word om ná die sneltrajek aan die voertuie te werk nie.
Dít beteken die bemanning is daarvoor verantwoordelik om hul voertuie self te herstel en vir die volgende dag se sneltrajek voor te berei, wat dit gevaarlik maak om te hard te jaag aangesien ’n voertuig wat in die marathon-sneltrajek beskadig word, nie net baie tyd kan verloor nie, maar maklik die hele ren ook.

Dit het nie gelyk asof dit De Villiers/Von Zitzewitz (#302), wat Sneltrajek 7 vasberade aangedurf het, veel bekommer het nie. Hulle het ’n skoon lopie gehad, en die derde vinnigste tyd vir die dag aangeteken ‒ net 03:33 agter Peterhansel, wat die sneltrajek gewen het. Sebastien Loeb (Peugeot) was die tweede vinnigste en het 00:48 agter sy spanmaat geëindig.

“Ons het ’n puik lopie gehad, en die Toyota Hilux het hom verrassend goed op die hoë hoogtes tussen La Paz en Uyuni gedra,” het De Villiers by die marathon-tentkamp op die rand van die beroemde Salar de Uyuni gesê. “Ons verloor tussen dertig en veertig persent enjinkrag weens die gemiddelde hoogte van 3 600 m bo seevlak waar ons vandag gejaag het, en ons is dus baie tevrede om só naby aan die turbo-aangejaagde motors voor ons te wees.”

De Villiers/Von Zitzewitz het danksy hul vertoning in dié sneltrajek tot sesde algeheel opgeskuif, en is nou net 24 minute agter Miko Hirvonen (MINI; vyfde).

Hul mede-Toyota Hilux-jaers Nani Roma en Alex Bravo (#305) het ook in die algehele stand opgeskuif ‒ deels danksy probleme wat die Peugeot-jaer Cyril Despres, wat halfpad deur die ren voor hulle was, opgedoen het. Roma/Bravo was vyfde vinnigste in Sneltrajek 7 en het 05:32 agter Peterhansel geëindig. Dít, tesame met Despres se terugslag, was goed genoeg om hulle tot op die Dakar-podium te laat vorder. Hulle is nou in die derde plek ‒ 11:07 agter Peterhansel.

“Ons is baie tevrede met vandag se vertoning van die Toyota-jaers,” het die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, by die ondersteuningstentkamp by Tupiza gesê. “Die marathon-sneltrajek is altyd kommerwekkend, en dit is vir ons moeilik om so ver van ons renvoertuie af te wees. Maar Giniel en Nani het al twee goed gejaag en nie een van hulle het enige probleme met die Toyota Hilux aangemeld nie.”

Volgende is Sneltrajek 8 ‒ die laaste van die sneltrajekte wat so hoog bo seevlak beslis word. Dit neem die deelnemers ook terug na Argentinië vir die laaste vier sneltrajekte van vanjaar se ren. Die sneltrajek neem die deelnemers van Uyuni in Bolivië tot in Salta in Argentinië in die rengedeelte oor 492 km. Benewens die sneltrajek self moet die deelnemers nog 400 km op die oop pad aflê, wat die algehele afstand vir die dag op 892 km te staan bring.

Sneltrajek 8 behels ’n aantal duingedeeltes sowel as rivierkruisings en vinnige dele deur skeurvalleie. Dit begin om 08:55 Argentynse tyd wanneer die byeenkomshorlosie vir die Dakar-veldtydren weer vir die tydverskil tussen Bolivië en Argentinië aangeskuif word.

Posted on by jonckie

Comments Off on Sterk vertoning deur De Villers en Von Zitzewitz in Sneltrajek 7 van Dakar 2017

Category: Veiligheid, Voertuig