Sneltrajek 4 van Dakar 2017 bring verligting vir Toyota Gazoo Racing SA

TUPIZA, BOLIVIË – Die drie sneltrakte van die 2017-Dakar-ren het vir gemengde gevoelens in die Toyota Gazoo Racing SA-kamp gesorg. Aan die begin was dit ’n oorwinning in die openingsneltrajek vir Nasser Al-Attiyah en sy navigator, Mathieu Baumel (#301), wat die span met trots en vertroue gevul het. Sneltrajek twee het vir ’n tweede plek gesorg, maar toe tref die noodlot. Sneltrajek drie het tot Al-Attiyah/Baumel se onttrekking gelei, en Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz (#302) het die grootste deel van ’n halfuur weens ’n brandstofdruk-probleem verloor.

Sneltrajek 4 was volgende, en die deelnemers het uit die Argentynse dorp San Salvador de Jujuy op pad na Tupiza in Bolivië vertrek – ’n algehele afstand van 521 km. Daarvan was 416 km die sneltrajek self, wat op ’n hoogte van 4 300 m bo seevlak begin en later teen sowat 3 400 m geëindig het.

En wat ’n sneltrajek was dit nie!

Vir die Toyota-deelnemers het Sneltrajek 4 ’n geleentheid gebied om sake ná die dubbele terugslag van Sneltrajek 3 te kalmeer.
DieToyota Gazoo Racing SA-jaers De Villiers/Von Zitzewitz het ’n moeilike wegspring in Sneltrajek 4 gehad nadat hulle in wat hulle “van die sagste duine wat ons al teëgekom het” genoem het, vasgeval het. “Gelukkig het dit onlangs in die omgewing gereën, anders weet nugter wat kon gebeur het.”

Hulle het ná die duine naby aan die wegspring goed gevorder totdat twee agtereenvolgende pap wiele hulle teruggehou het. Navigasie was ook ’n uitdaging, maar hulle was uiteindelik sesde in die sneltrajek, wat hulle tot sewende algeheel opgeskuif het.

Nani Roma en Alex Haro Bravo (#305), wat in nog ’n SA geboude Toyota Hilux in die kleure van Overdrive Racing jaag, was die vinnigste Toyota-span in Sneltrajek 4. Hulle het die derde vinnigste tyd in dié sneltrajek, wat deur die Peugeot-jaer Cyril Despres gewen is, aangeteken. Sneltrajek 4 het vir Roma/Bravo vir ’n soortgelyke ervaring as dié van De Villiers/Von Zitzewitz gesorg, maar hulle het daarin geslaag om hul tydverlies teenoor Despres tot net 12:51 te beperk, en is nou vyfde algeheel.

“Ons het ’n goeie dag gehad, en was vroeg in die sneltrajek voor,” het die Spaanse jaer by die oornaghalte in Tupiza gesê. “Die sagte duine en twee pap wiele het hul tol geëis. Ons is egter steeds tevrede met ons vertoning vandag, en die Toyota Hilux het weer soos klokslag geloop.”

Die byeenkoms het nog baie rentyd oor, en Sneltrajek 4 het bewys dat enigiets kan gebeur. Die voormalige Dakar-wenner Carlos Sainz (Peugeot) het sy motor naby die einde van die sneltrajek gerol en meer as twee ure verloor. Die vroeë voorloper van vanjaar se ren, die negemalige wêreldkampioen Sebastien Loeb (Peugeot), het 22 minute verloor, terwyl die voormalige wenner Stephané Peterhansel 15 minute teruggesak het. Yazeed al Rahji (MINI), wat in 2016 vir Toyota Gazoo Racing SA gejaag het, moes hom ook onttrek, wat duidelik wys die 2017-Dakar is nog ver van verby af.

“Vanjaar se Dakar-veldtydren het duidelik baie meer byt as dié van vorige jare,” het die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, by die tentkamp inTupiza gesê. “Mark Coma is die nuwe roetehoof, en dit lyk asof hy vasberade is om die Dakar-veldtydren se reputasie as die strafste motorren ter wêreld te laat geld.”

Sneltrajek 5, wat Vrydag 6 Januarie beslis word, neem die deelnemers van Tupiza na Oruro oor ’n afstand van 692 km. Dit sluit 245 km op die oop pad en 447 km vir die sneltrajek in. Dit is ’n massiewe sneltrajek met ’n groot verskeidenheid oppervlakke en wisselende soorte terrein. Die sneltrajek se gemiddelde hoogte is 3 800 meter bo seevlak met die hoogste punt op meer as 4 400 meter.

Die 2017-Dakar-veldtydren is tot 10 Januarie in Bolivië waarna die deelnemers vir die laaste vier dae van die ren na Argentinië terugkeer. Die ren sluit op 14 Januarie in die Argentynse hoofstad, Buenos Aires, af.

Posted on by jonckie

Comments Off on Sneltrajek 4 van Dakar 2017 bring verligting vir Toyota Gazoo Racing SA