Roma wapper Toyota vlag in sneltrajek 5 van Dakar 2017

ORURO, BOLIVIË – Die 2017-Dakar-ren het met ’n groot gejuig afgeskop, maar baie van die topjaers het probleme in die eerste paar sneltrajekte opgedoen. Dit lyk asof dit die nuwe neiging is nadat Sneltrajek 5 van hierdie ikoniese ren vir nog ’n wipbal gesorg het: reën, reën en nogmaals reën. Dit was só erg dat die sneltrajek tot sowat die helfte van die oorspronklike afstand verkort moes word, maar ten spyte daarvan het Nani Roma en sy navigator, Alex Bravo, die vlag vir Toyota as naaswenners gewapper – net 44 sekondes agter die sneltrajekwenner Sebastien Loeb (Peugeot).

“Ons het ’n baie goeie lopie gehad,” het die Spanjaard by die oorstroomde tentkamp in die dorpie Oruro gesê “Die Toyota Hilux het die toestande perfek hanteer, en as dit nie vir ’n navigasiefout naby die einde van die sneltrajek was nie, kon ons dalk bo uitgekom het.”

Roma/Bravo (#305) het op een tydstip tot 28 sekondes agter Loeb gevorder voordat hulle verkeerd afgedraai en effens teruggesak het. Roma se navagasiemoeilikheid was egter niks teenoor die probleme wat sommige ander jaers in Sneltrajek 5 gehad het nie.
Miko Hirvonen (MINI) het 42 minute verloor terwyl Toyota Gazoo Racing SA se oorblywende jaer, Giniel de Villiers, en sy navigator, Dirk von Zitzewitz (#302), 29:51 aan Loeb as sneltrajekwenner afgestaan het.

“Vandag se navigasie was baie moeilik, en ons het baie tyd verloor,” het De Villiers ná die sneltrajek gesê. “En om dinge nog moeiliker te maak, het die weer verwoesting gesaai en die organiseerders moes die sneltrajek noodgedwonge aansienlik verkort.”

De Villiers/Von Zitzewitz is nou in die agtste plek algeheel, en ’n hele 01:08:11 agter die algehele voorloper, Stephané Peterhansel (Peugeot). Roma/Bravo is steeds vierde algeheel – 05:35 agter die voorloper.

Die byeenkoms word vir die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, net al erger: “Wat kan ons ná ’n dag soos vandag sê? Giniel het baie tyd verloor, maar Nani het darem daarin geslaag om die dag vir Toyota te red. Die weer het terselfdertyd versleg, met ysige reën en die temperatuur by die tentkamp nagenoeg vyf grade. Sneltrajek 5 het die duinebesies beter gepas, maar ons is nogtans baie deur Nani se vertoning vandag bemoedig. Ons hou aan om terug te veg, en met so baie van die topjaers wat vanjaar met hul navigasiewerk sukkel, kan enigiets steeds gebeur.”

Volgende is Sneltrajek 6, en dit lyk asof dit nog ’n rugbreker kan wees. Die roete strek van Oruro na die Boliviese hoofstad, La Paz, en word dan deur die broodnodige rusdag gevolg. Die deelnemers moet egter nog eers die sneltrajek oor 527 km teen ’n hoogte van 4 400 m baasraak. Sneltrajek 6 behels van die moeilike sandduine naby die begin, en eindig by die skouspelagtige Titicaca-meer naby La Paz. Dit is die hoogste begaanbare meer ter wêreld.

Posted on by jonckie

Comments Off on Roma wapper Toyota vlag in sneltrajek 5 van Dakar 2017

Category: Veiligheid, Voertuig, Voertuig Tags :