Polisie soek na handsakdiewe in Oudtshoorn

Handsakdiewe, wat op ‘n slinkse wyse ‘n toeris se handsak met waardevolle items in die eetsaal by die Queens Hotel gesteel het, het vanoggend wéér toegeslaan.

Op Dinsdagoggend, 3 Januarie, het diewe met ‘n toeris se handsak vol waardevolle items, uit die Queens Hotel se eetsaal in die niet verdwyn. Vanoggend omstreeks 07:50 by die Oudtshoorn Inn is twee toeriste se handsakke op ‘n soortgelyke wyse gesteel.

Kaptein Louis Visser, woordvoerder vir die Oudtshoorn-polisie, sê die modus operandi wat die diewe gevolg het was dieselfde as by die Queens Hotel en die polisie vermoed dit is dieselfde mense.

Visser het hulle beskryf as ‘n blanke man, ‘n man van Asiese afkoms en ‘n lang skraal swart man.

Hulle het in Van der Rietstraat in die rigting van Oudtshoorn-Noord gestap en verdwyn.

Die mans is op geslotekringtelevisie vasgelê.

Enige iemand met inligting oor die verdagtes kan die Oudtshoorn-polisie skakel by 044 203 9022.

[Oudtshoorn Courant]

Posted on by jonckie

Comments Off on Polisie soek na handsakdiewe in Oudtshoorn