Laer hoogtes bo seevlak wag vir Toyota Gazoo Racing SA op Dakar 2017

ABRA PAMPA, ARGENTINIË – Die Argentynse dorpie Abra Pampa is nie veel meer as ’n kolletjie op die kaart nie, maar aan die einde van Sneltrajek 8 van die 2017-Dakar was dit ’n boer-maak-’n-plan-oornagtentkamp vir Toyota Gazoo Racing SA. Die span moes noodgedwonge al die diens- en instandhoudingswerk langs die pad naby dié dorpie doen nadat ’n massiewe grondverskuiwing hulle verhinder het om by die amptelike oornagtentkamp in Salta uit te kom. Die gevolg is dat Dinsdag 10 Januarie een van die langste dae in vanjaar se ren was, en selfs Nani Roma, wat aan sy 22e Dakar-ren deelneem, het gesê vanjaar se ren is “die ergste wat ek al beleef het”.

Roma en sy navigator, Alex Bravo (#305), het die tweede deel van die marathon-skof, wat uit Sneltrajekte 7 en 8 sonder tegniese ondersteuning tussenin bestaan het, suksesvol afgelê. Die eerste deel van die roete ‒ Sneltrajek 7 ‒ het die deelnemers na ’n oornagtentkamp in Uyuni in Bolivië geneem, terwyl die tweede deel – Sneltrajek 8 – die Dakar terug Argentinië toe geneem het met die beplande oornaghalte digby die stad Salta.

Dié Toyota-span het die sewende vinnigste tyd van die dag opgestel ‒ 14:26 agter die sneltrajek-wenner, Sebastien Loeb (Peugeot). Dit het hulle tot vierde algeheel laat terugsak, met die Peugeot-jaer Cyril Despres wat nou derde is.

Dit was ook ’n beter vertoning vir Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz (#302), ten spyte van die feit at hulle weens die groot hoogtes bo seevlak met die rug teen die muur terugveg. Die Toyota Gazoo Racing SA-jaers was vyfde vinnigste vir die dag, en het net minder as 12 minute teenoor die sneltrajek-wenner afgestaan. Dit plaas hulle sesde algeheel.

“Die turbo-aangejaagde motors het gewis ’n groot voordeel in dié sneltrajek gehad,” het De Villiers by die tydelike dienspunt by Abra Pampa gesê. “Ons het darem ons tydverlies beperk, en van môre af (Woensdag 11 Januarie) jaag ons weer teen laer hoogtes, en ons sien daarna uit om weer by die stryd aan te sluit.”

De Villiers was ook verlig om die moeilike marathon-skof agter die rug te hê, en nie een van die twee Toyota Hilux-renvoertuie het ernstige herstelwerk ná Sneltrajek 8 nodig gehad nie. Dit was ook ’n groot verligting vir die tegniese spanne wat die voertuie nie net daar en dan langs die pad moes versien nie, maar ook ’n massiewe reis oor genadelose terrein in die gesig gestaar het om in die vroeë ure van die volgende oggend by die tentkamp uit te kom.

Aangesien soveel ren- en ondersteuningspanne ver van die tentkamp af vasgeval het, het die organiseerders geen keuse gehad as om Sneltrajek 9 af te stel nie. Al die spanne sal nou die ooppadroete na die Argentynse dorp Chilecito volg, waarna die ren Donderdag 12 Januarie met Sneltrajek 10 sal hervat.

“Dit maak dit vir ons selfs nog moeiliker,” het die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, gesê nadat hulle gehoor het die volgende sneltrajek is afgelas. “Daar is min sneltrajekte teen laer hoogtes bo seevlak, en ons het elke renkilometer nodig om tyd in te haal. Voeg daarby die feit dat Sneltrajek 9 ’n uitdaging vir die navigators sou wees, en dit kon gewis ’n keerpunt vir ons gewees het.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Laer hoogtes bo seevlak wag vir Toyota Gazoo Racing SA op Dakar 2017