3 SA-geboude Toyotas in Top10 in Dakar 2017

BUENOS AIRES, ARGENTINIË – Die 2017-Dakar het pas in die Argentynse hoofstad Buenos Aires geëindig nadat die deelnemers Sneltrajek 12 van die wêreld se strafste motorren afgelê het. Die ren, wat oor dertien dae in Paraguay, Bolivië en Argentinië beslis is, het drie Suid-Afrikaaans-geboude Toyota Hilux-renvoertuie onder die Top 10 opgelewer. Nani Roma en sy navigator, Alex Bravo (#305), was die beste van die Toyota-jaers, terwyl die nuwelingjaer Conrad Rautenbach en sy navigator, Rob Howie (#320), negende algeheel was.

Dit was ’n wipplank-byeenkoms vir die Toyota Gazoo Racing SA-jaer Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz (#302), wat in die laaste sneltrajek net 30 sekondes agter die sneltrajekwenner, Sebastien Loeb (Peugeot), was en die derde vinnigste tyd van die dag opgestel het. Dit was op die ou einde oorgenoeg om Orlando Terranova (MINI), wat ’n laat aanslag op De Villiers/Von Zitzewitz in hul algehele vyfde plek ná Sneltrajek 11 geloods het, agter hulle te hou.

“Ons het geweet ‘Orly’ was kort agter ons, en al twee van ons het so hard as wat ons kon in Sneltrajek 11 gejaag,” het De Villiers by die eindpunt van die moordende ren in Buenos Aires gesê.
“Maar ek het die laaste dag daarin geslaag om ons effense voorsprong te behou, en het in Sneltrajek 12 daarin geslaaag om dit eintlik te vergroot en ons vyfde plek algeheel te behou.”

Sneltrajek 12 het die einde van die 2017-Dakar-ren aangedui, waarin Stephane Peterhansel sy 13e Dakar-oorwinning aangeteken het – ses op motorfietse, en sewe in die motor-afdeling. Sy spanmaaat, die veelvuldige wêreld-tydrenkampioen Sebastien Loeb, was tweede met Cyril Despres, ook in ’n Peugeot, wat die podium afgerond het. Hulle is oor die wenstreep deur Roma en De Villiers, die beste van die deelnemers wat nié in Peugeots was nie, gevolg.

Toyota Gazoo Racing SA het die 2017-weergawe van die ikoniese ren met ’n groot gejuig begin. Nasser Al-Attiyah van Katar en sy Spaanse navigator, Mathieu Baumel, het die kort openingsneltrajek van die ren oortuigend gewen terwyl De Villiers/Von Zitzewitz die vyfde vinnigste tyd in Sneltrajek 1 aangeteken het. Dit het beide spanne in die perfekte posisie vir die eerste volwaardige Dakar-sneltrajek opgestel.

Sneltrajek 2 het vir die verwagte vuurwerk gesorg, en Al-Attiyah/Baumel was ’n paar keer lank los voor voordat hulle in die tweede plek vir die dag geëindig het.
De Villiers/Von Zitzewitz het hul posisie behou, hul sit gekry en die Toyota Hilux van ’n puik uitstappie voorsien.

Maar toe kom Sneltrajek 3, en ’n massiewe teleurstelling vir Toyota Gazoo Racing SA. Al-Attiyah/Baumel het die dag met oorgawe begin, en die pas vir die grootste deel van dié lang en moeilike sneltrajek aangegee. Dit het gelyk asof hulle ’n tweede sneltrajek in die 2017-Dakar vir Toyota sou wen, maar die Dakar-gode het ander planne gehad. Dié jaer van Katar het naby die einde van die sneltrajek wyd gedraai en ’n diep gat langs die pad het die voertuig se regter-agterwiel afgeruk en die onderstel ernstig beskadig.

“Ons is bitter teleurgesteld,” het die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, daarna gesê. “Maar op die nou einde kon ons niks doen nie. Nasser het so hard gejaag as wat hy kon, en ons is baie tevrede met ons Toyota Hilux se verrigting. Maar dit is die Dakar, en hierdie soort goed gebeur.”

Met Al-Attiyah/Baumel uitgeskakel het die kollig op De Villiers/Von Zitzewitz sowel as hul mede-Toyota-jaer Nani Roma en sy navigator, Alex Haro (#305), geval. Sneltrajek 3 was egter ook ’n teleurstelling vir De Villiers wat dié ren destyds in 2009 gewen het.

“Die sneltrajek was reg van die begin af moeilik,” het De Villiers verduidelik, “en ons het aan diue begin ’n bietjie tyd weens navigasie verloor. “Maar toe byt ons vas om tyd stukkie vir stukkie terug te wen.”

Dié heldhaftige jaer van Stellenbosch het met ’n stewige vertoning vorendag gekom totdat ’n brandstofdruk-probleem sy aanslag gekniehalter het. De Villiers/Von Zitzewitz moes noodgedwonge stilhou en die probleem aanpak, wat hulle uiteindelik die grootste deel van 30 minute gekos het. Dit het hulle ver laat terugsak, en dit was ’n opdraandestryd van daar af.

“Maar Giniel en Dirk baklei hard, en het net die kop laat saak en voortgebeur,” het Hall hul vertoning beskryf. “Hulle het die ren uiteindelik in die vyfde plek afgesluit nadat hulle ook ’n groot aanslag van die MINI-jaer Orlando Terranova in die voorlaaste sneltrajek afgeweer het.”

Terselfdertyd het Roma/daarain geslaag om die vlag vir Toyota te wapper en hul vierde plek algeheel regdeur die grootste deel van die ren te behou. Hulle was die vinnigste ander voertuig as ’n Peugeot in die renveld, en het regdeur die ren geen tegniese probleme met hul Toyota Hilux gehad nie.

“Ons was soms dalk ’n bietjie oorversigtig,” het die Spaanse jaer by die wenverhoog in Buenos Aires laat blyk. “Maar in die Dakar is dit belangrik om effens terug te hou en seker te maak jy haal die einde. Ons het dit dus nie net reggekry om die einde te haal nie, maar ook as die vinnigste Toyota Hilux in die renveld te eindig.”

Die Zimbabwese jaer Conrad Rautenbach, wat saam met die ervare navigator, Rob Howie, vir die 2017-Dakar-ren gejaag het, het die moordende ren in die negende plek algeheel afgesluit. Dit was Rautenbach se heel eerste Dakar-ren en ’n puik vertoning wat hom die Nuwelingjaer van die Jaar-toekenning besorg het. Sy eindposisie het beteken dat drie Suid-Afrikaans-geboude Toyota Hilux-renvoertuie die 2017-Dakar-ren onder die voorste tien voltooi het.

“Die 2017-Dakar sal om ’n verskeidenheid redes lank onthou word,” het Hall ná die ren gesê. “Die uiterste weerstoestande het ongetwyfeld ’n massiewe rol gespeel waarin sneltrajekte afgelas en erg verkort is, wat die ren se algehele renafstand aansienlik verkort het.”

Terselfdertyd het die uiterste hoogtes bo seevlak in die Altiplano in Bolivië gewis teen die turbolose Toyota V8-enjins getel, en die roetehoof, Mark Coma, se nuwe roete het die navigators so erg as die renjaers beproef.

“Vir ons by Toyota Suid-Afrika Motors is deelname aan die Dakar-ren die uiterste vertoonkas van die legendariese betroubaarheid en taaiheid van die Toyota Hilux,” het Calvyn Hamman, senior vise-president van verkope en bemarking by Toyota SA Motors, gesê.

Benewens die drie Toyota Hilux-renvoertuie onder die voorste tien het 24 ander soortgelyke Toyotas aan die ren deelgeneem ‒ meer as enige ander vervaardiger. Toyota het ook die louere in Klas T2.2 vir omgeboude dieselvoertuie ingeoes, waar Toyota Land Cruiser 200 GX-jaers eerste en tweede in dié klas was. Die Hino-jaers het hul klas weereens bewys deur ook eerste en tweede in Klas T4.2 vir omgeboude vragmotors te beklink.

Die president en uitvoerende hoof van Toyota Suid-Afrika Motors, Andrew Kirby, wat by die eindpodium in Buenos Aires was, was ten spyte van die uitdagende toestande baie positief oor Toyota se vertoning. “Dit is uiteindelik die volmaakte uitdaging, aangesien dit sonder twyfel die strafste motorren ter wêreld is. Ons het dalk vanjaar nie reggekry waarvoor ons gekom het nie, maar ons kan ongetwyfeld baie trots op ons vertoning wees. Ons het Klas T1 4×4 gewen, wat net weer bewys hoe taai ons Toyota Hilux selfs in hierdie uiterste toestande is.”

Posted on by jonckie

Comments Off on 3 SA-geboude Toyotas in Top10 in Dakar 2017